Jaco Visser
Johannesburg. – Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) het by ’n tweede agtereenvolgende vergadering besluit om die repokoers, waarteen aan handelsbanke geleen word, onveranderd op 12% te hou.
Dit beteken dat banke se prima-uitleenkoerse aan individue onveranderd op 15,5% bly.
Mnr. Tito Mboweni, president van die Reserwebank, het gesê dat die verbruikersprysinflasie, sonder die effek van huisverbande, in die tweede kwartaal van 2010 sal terugkeer na die komitee se teiken van tussen 3% en 6%.
Hy het egter daarop gewys dat die ekonomie vinnig aan die afkoel is en verwag dat die groei in die bruto binnelandse produk in die derde kwartaal vanjaar tot onder sy potensiële vlak sal daal.
Een van die kommerwekkendste faktore vir die komitee is die waarde van die rand.
“Die rand het met 9% teenoor die dollar gedepresieer sedert die vorige rentekoersvergadering van die MBK,” het hy gesê.