Die donkerste week in die wêreld se finansiële markte die afgelope 80 jaar is gister met hernieude vrees op aandelebeurse afgesluit terwyl die finansiële stelsel verder verkrummel en duisendmiljarde dollars uit beleggers se portefeuljes verdwyn.
Daarby waarsku ekonome nou opnuut dat die hele wêreld in ’n resessie gedompel kan word.
Aandelemarkte in Rusland, Ysland, Oostenryk, Indonesië, Roemenië en die Oekraïne is heeltemal of vir ure lank gesluit in die hoop dat dit beleggers sal laat bedaar. In Milaan, Italië, is die verhandeling van bykans die helfte van die aandele opgeskort omdat dit te ver getuimel het, berig Fin24.
Die paniek het posgevat kort voor ’n vergadering van die Groep van Sewe ontwikkelde lande om te besluit wat aan die krisis gedoen kan word.
Onsekerheid het Donderdag in Oosterse verhandelings begin blyk, met indekse wat reuse-dalings aangeteken het. Die Tokiose Nikkei 225 het met 9,6% geval en die Hangseng in Hongkong het 7,2% in die rooi gesluit. In Sydney het die S&P 200 met 8,3% getuimel.
Op die plaaslike aandelemark het die JSE se indeks van alle aandele gisteroggend 4,8% in die rooi geopen.
Dit het in ’n stadium tot net bo die vlak van 20 000 punte gedaal en toe ietwat herstel. Die indeks het gister 3,1% laer gesluit op 20 595,23 punte.
In Europa het die beurse hard aarde toe gekom. Sommige Europese aandelemarkte is vir die dag gesluit.
Die R-woord is ook gister duidelik gebruik.
In sy wêreldekonomiese vooruitsigte het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) die waarskynlikheid dat die wêreldekonomie binne drie maande ’n resessie kan betree, tot 60% verhoog.
“Vir die eerste keer sal die ware sterkte van die ontluikende markte se ekonomiese beginsels getoets word,” waarsku Standard Bank in ’n ekonomiese verslag.
Dit kom nadat die IMF Donderdag ’n noodplan om ontluikende markte teen die woelinge in die finansiële markte te beskerm, bekend gemaak het.
Dié plan, een van die grootste in die geskiedenis van die fonds, is eergisteraand voor die aanvang van die IMF se jaarlikse vergadering in Washington deur die fonds se hoof, dr. Dominique Strauss-Kahn, bekend gemaak, berig Bloomberg.
Terwyl die verwagte wêreldekonomiese groei begin kwyn, begin beleggers en spekulante uit hulpbronne, soos platinum, olie en koper, klim.
Die kontantprys van platinum was gistermiddag $30 per ons laer op $999,85.
Die prys van Brent-ruolie vir lewering in November het sedert Maandag reeds met byna 12% getuimel en teen gistermiddag het dit vir die dag byna $5 per vat laer op $77,98 verhandel.
Die laer olieprys sal, as die rand hou, brandstofverbruikers in November ’n blaaskans gee.
Teen gisteroggend was die gemiddelde onderverhaling op 95-oktaan-petrol in Gauteng 19c/F.
Of die rand egter gaan hou, is ’n ope vraag.
“Slegs die tyd sal ons leer of die rand dieselfde paadjie gaan stap as in 1998 en 2001,” sê Standard Bank met verwysing na twee vorige finansiële krisisse toe die rand skerp gedaal het.
Die rand het gister met 16c teenoor die dollar verswak en teen die middag teen R9,27 vir ’n dollar verhandel. Die rand het deur die dag weer tot ’n sesjaar-laagtepunt van R9,50 verswak, maar daarna weer verstewig.