Suid-Afrikaners hoef nie paniekerig te wees oor die finansiële storms wat tans oor die wêreld heen woed nie.
Die land se ekonomie is danksy goeie finansiële bestuur nie in die pad van die storm nie.
Só het mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, Vrydag vanuit Washington waar hy vergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) bygewoon het, in ’n onderhoud aan Sake-Rapport, ’n susterpublikasie van Sake24, gesê.
Volgens hom sal die Suid-Afrikaanse bankstelsel danksy streng kapitaalvereistes, behoorlike toesig en valutabeheer ongeskonde bly.
“Partye wat tot onlangs toe nog steen en been gekla het oor die beperkings wat onder meer valutabeheer op hul sake gehad het, kan nou hul sterre dank dat die Suid-Afrikaanse owerhede versiende genoeg was om behoorlike beheer oor die finansiële stelsel uit te oefen,” het Manuel gesê.