Slegte skuld kan oor die volgende 12 tot 18 maande ál meer sy lelike kop uitsteek.
Dit is omdat mense hul hoë leefstyl naarstig probeer handhaaf, of as die skuld wat hulle die afgelope vier jaar gemaak het, hulle begin oorweldig, sê mnr. Kevin Lings, ekonoom van Stanlib.
Lings het gister kommentaar gelewer op Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se kleinhandelverkoopsyfers vir Augustus.
Kleinhandelverkope het in Augustus met 5,5% gedaal vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dít volg op ’n 4,6%-daling in Julie.
Die kleinhandelverkope in die eerste ses maande van 2008 is op ’n jaargrondslag 1,7% laer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, terwyl dieselfde tydperk in 2007 ’n groei van 7,8% opgelewer het.
Lings sê laer verkope volg op kleiner besteebare inkomste – die spoed waarteen salarisse verhoog word (tussen 8% en 10%) is heelwat laer as inflasie (13,6%).
Hy meen dit is algemeen dat sodra verbruikers ’n aantal maande onder finansiële druk verkeer, hulle hul oortrokke geriewe gebruik. Banke en ander instellings berei hul reeds hierop voor voor deur leningsgeriewe te vergroot, sê hy.
“Dis ’n tipiese verskynsel van dié deel van die siklus. Ons sal slegte skuld nog teen die einde van volgende jaar sien, maar dit sal nie sommer kommerwekkende vlakke bereik nie.”
Lings sê Suid-Afrikaanse verbruikers het die huidige afswaai met redelike lae vlakke van slegte skuld betree. Dít sal die impak daarvan verminder. Daarbenewens is dit onwaarskynlik dat dié afswaai omvangryke afleggings sal meebring.
“Maatskappye sal weens vaardigheidstekorte nie vinnig aan hul werkmag sny nie. Met die belofte van ’n verbetering danksy 2010 op die horison, sal hulle eerder dié vaardighede wil behou en probeer vasbyt,” sê Lings.
Mnr. Fanie Joubert, ’n ekonoom by die Efficient Group, stem saam dat hoewel verkope oor die volgende jaar steeds sleg gaan vaar, “die vloer nie sal inval nie”.
Joubert verwag ’n inkrimping van tussen 6% tot 8% in die volgende paar kwartale. Hy sê al sal verkope teen 2010 beter lyk, is dit onwaarskynlik dat die stygings hoër as enkelsyfer-persentasies sal wees. Dis volgens hom kommerwekkend dat implisiete kleinhandelinflasie van 10% op jaargrondslag in Januarie tot bo 17% in Augustus toegeneem het.
Luukse produkte is volgens hom die eerste plek waar verbruikers begin besnoei, terwyl selde op farmaseutiese en mediese produkte, skoonheidsprodukte en toiletware bespaar word.
Verbruikers koop volgens Lings om twee redes minder. Hulle is eerstens bewus van die finansiële probleme wêreldwyd en voel nie gemaklik om groot items soos ’n motor of ’n huis te koop nie. Daarby speel banke se groter versigtigheid ook ’n rol.
Selfs die Kerstyd sal nie die situasie verbeter nie. Nedbank sê in ’n verslag verkope sal in dié tyd toeneem, maar die impak daarvan sal maar klein wees omdat klante versigtig sal bly.
Waar sal verligting vandaan kom?
- Opeenvolgende verlagings in rentekoerse.
- ’n Omgewing waar die gemiddelde salaris vinniger as inflasie toeneem.
- Stats SA gebruik in dié maandelikse opname van die kleinhandelbedryf ’n monster uit alle kleinhandelondernemings in die 2008 Business Sampling Frame (BSF). Alle ondernemings wat vir BTW geregistreer is, val hieronder.