Sake-eienaars aan die Oos-Rand is hoogs tevrede met die wyse waarop die Ekurhuleni-metroraad die onlangse kragonderbrekings gehanteer het.
Volgens ’n telefoniese opname van die Ekurhuleni-Suid-sakekamer (Secob) het al die respondente saamgestem dat hulle dankbaar is oor hoe die onderbrekings beperk en deeglik daaroor gekommunikeer is.
Volgens me. Alta Mulder, uitvoerende hoof van Secob, is die opname gedoen in die tydperk waarin die res van die land van tyd tot tyd in donkerte gehul was.
“Hier was regtig min onderbrekings,” sê Mulder. “Wanneer dit wel gebeur het, het die metro ons vooraf ingelig, sodat ons ons lede kon waarsku.”
In reaksie op van die ander vrae in die opname het 78% van die respondente aangedui hulle wil makliker toegang tot die metro se burgemeester en stadsbestuurder hê, terwyl 84% meer inligting oor infrastruktuur-ontwikkelingsprojekte wil hê.
Meer as 60% is bekommerd oor stygende misdaad, geweld en werkloosheid.
In ’n tweede peiling oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en loopbaanontwikkelingsmoontlikhede binne kleiner ondernemings, het 48% van die respondente aangedui hulle weet nie wat die sewe elemente is waaruit die praktykkodes vir SEB bestaan nie. Voorts verskaf 76% van die ondernemings geen loopbaanbeplanning aan hul werknemers nie en 57% het nie ’n prestasie-bestuurplan nie.
“Ons wil graag sien dat al ons lede so gou moontlik aan SEB-vereistes voldoen,” het Mulder gesê.
“Die vraelys het gewys dat baie mense nog ’n negatiewe persepsie daarvan het en dit nie ten volle verstaan nie.”