’n Klein onderneming wat voortaan kies om volgens die voorgestelde omsetbelastingstelsel belas te word, sal moontlik steeds ’n belastingrekening vryspring indien hy ’n verlies ly.
Mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, het in sy begrotingsrede verlede week aangekondig dat ondernemings met ’n jaarlikse omset van minder as R1 miljoen kan kies om eerder op omset belas te word.
In antwoord op die vraag of sulke ondernemings steeds belasting sal moet betaal, selfs al ly hulle ’n verlies, het me. Thumida Maistry, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), gesê die finale bepalings en voorwaardes vir die nuwe stelsel moet nog ná oorleg met belanghebbendes vasgestel word.
Volgens haar lê ’n moontlike probleem vir kwytskelding daarin dat die nuwe stelsel op die veronderstelling berus dat die onderneming nie in staat is om akkurate rekords van alle inkomste en uitgawe op te stel nie; gevolglik sal dit vir ’n eienaar moeilik wees om ’n verlies bo alle twyfel te bewys.
“Wat ons nou het, is voorstelle vir ’n vereenvoudigde belastingstelsel waarvan die finale formaat die produk van gesprekke met sleutel-belanghebbendes sal wees,” het Maistry gesê.
“Dit is logies dat waar belasting op omset betaal word, verliese irrelevant sal wees. Desnieteenstaande kan oorlegpleging lei tot die aanbied van die een of ander vorm van verligting.”
Die skaal waarop die geskatte omset belas gaan word, is 0% vir ’n omset tot R100 000, 2% vir ’n omset van tussen R100 000 en R300 000, 4% vir R300 000 tot R500 000, 5,5% vir R500 000 tot R750 000 en 7,5% vir R750 000 tot R1 miljoen.
’n Onderneming moet vir ’n minimum tydperk van drie jaar kies om deel van die stelsel te wees, met dié voorbehoud dat sy omset steeds onder die R1 miljoen-kerf bly.
Wanneer ’n onderneming kies om weer buite dié stelsel te beweeg, mag hy vyf jaar daarna nie terugbeweeg nie.
Buiten dié nuwe inkomstebelastingstelsel het Manuel ook aangekondig dat die minimum kerf vir verpligte BTW-registrasie tot ’n jaarlikse omset van R1 miljoen opgestoot word van die huidige R300 000.
Volgens mnr. Wynand Redelinghuys, hoof van die konsultantgroep SBD, is die vernaamste oorwegingsrede vir vrygestelde ondernemings of hulle vrywillig moet registreer of nie, of hul kliënte self vir BTW geregistreer is of nie.
“Wanneer jou kliënte self vir BTW geregistreer is, kan hulle bloot die BTW-bedrag wat hulle aan jou betaal, van die ontvanger terugeis,” sê Redelinghuys.
“Wanneer jy produkte en dienste aan niegeregistreerde kliënte lewer, kan jy ’n mededingender prys aanbied as jy self nie geregistreer is nie.”
Volgens Maistry sal ondernemings wat voorheen vir BTW geregistreer het, wel kan deregistreer as hul omset steeds minder as R1 miljoen is.