|
Stephan Lamprecht
In die “ou” Suid-Afrika was innovasie die uitsluitlike speelveld van ingenieurs en dié in wit jasse.
’n Voormalige minister van finansies het glo die stelling gemaak: “Ons is ’n ryk land; as ons tegnologie wil hê, dan koop ons dit van oorsee af”.
Soos die rand ons leer, weet ons dat die ekonomie oor-afhanklik is van invoer en dat ons nie vir ewig op minerale en landbou kan staatmaak om ons mense van kos te voorsien en welvaart te skep nie.
Tot sy krediet is die regering besig om een van die ondersteunendste klimate vir wetenskap en tegnologie te skep, veral as dit vergelyk word met ander ontwikkelende lande.
Maatskappye kan deesdae aanspraak maak op belasting-aansporings en -toegewings vir navorsing en ontwikkeling in die skepping van nuwe innovasies en beginner-ondernemings.
Daar bestaan ’n dringendheid om die ekonomie van ’n hulpbron-gedrewe na ’n kennisgedrewe ekonomie te omskep.
Die basiese drywers van ’n kennis-ekonomie is byvoorbeeld die feit dat maatskappye vanweë globalisering internasionaal moet meeding, en daarmee op innovasie staatmaak om nuwe produkte en dienste vir hul markte te skep.
Voorts is groot maatskappye in hul strewe om mededingend te bly, ál afhankliker van klein en middelslagondernemings (KMO’s) deur hulle toenemend in die verskaffingsketting vir nuwe produkte en dienste te integreer. Die mark vir waarde-toegevoegde dienste vereis gedurig nuwe stelsels en prosesse wat op hulle beurt innovasie stimuleer.
Nog nooit voorheen was daar soveel momentum soos nou om voordeel te skep uit innovasie nie.
Die groot verskil tussen innovasie en uitvindings is dat innovasie moet lei tot produkte, dienste of prosesse wat in die verbruikersmark aanklank vind.
Die ou dae waar navorsing gedoen is ter wille van indrukwekkende tesisse wat op akademici se boekrakke stof vergader, is verby.
Innovasie moet ’n impak hê op die ekonomiese en maatskaplike bestel van ’n land, anders bly dit bloot ’n uitvinding en ’n baie effektiewe manier om geld te mors.
Die implikasie hiervan is dat ’n innovasie-ondernemer moet weet hoe om al die prosesse te benut om ’n idee te kommersialiseer, anders sal innovasie nie slaag nie.
Waar die uitvinder voorheen slegs bekommerd was of die idee ordentlik geartikuleer kon word, gaan innovasie dus veel verder.
Suksesvolle innovasie vereis meer as net blink idees en harde werk. Ondernemers moet aandag gee aan eenvoudige, dog kritieke elemente wat van toepassing is op die meeste KMO’s, naamlik of daar ’n mark vir die idee bestaan; of die nodige intellektuelegoedereregte in plek is om die mark te kan betree, en of die ondernemer oor die vermoë beskik om die proses suksesvol te finansier.
Indien nie, bly uitstekende idees vir ewig rondmaal in die koppe van uitvinders en kom dit nooit tot reg in die hande van verbruikers nie.
Die situasie in die patentekantoor in Pretoria spreek boekdele: slegs sowat 1% van alle patente sien meer aksie as die oorspronklike registrasie-aansoekvorm.
Een van die tragiese oorblyfsels van die era van groot staatsprojekte, is ’n “tegnologie-stoot”-kultuur onder ingenieurs en tegnici. Hier is die uitgangspunt dat die tegniese meriete voldoende geag word om die idee in die mark in te forseer, sonder dat daar bepaal word of daar wel ’n behoefte is.
Dié uitgangspunt dra daartoe by dat die staatsgeld wat aan universiteite en wetenskapsrade bestee word steeds weinig nuwe oplossings uit navorsing bied, terwyl die land ál meer tegnologie van oorsee lisensieer.
Daarteenoor bestaan markgedrewe innovasie daaruit dat die uitvinders luister na wat die mark wil hê, hul navorsing- en ontwikkelingsaktiwiteite daarvolgens belyn en minder tyd aan sinlose uitvindings bestee.
Belangrike stappe in die innovasieproses, soos om die regte strategie vir die beskerming van intellektuele goedere te kies, of selfs hoe om die regte sakevennoot te betrek, vereis in-diepte kennis van die mark waarin die innovasie sal realiseer.
As jy jou innovasie slegs in Suid-Afrika gaan kommersialiseer, sal dit ’n mors van geld wees om duur patentebeskerming in Europa en die VSA te bekom.
Aan die anderkant, as jou potensiële mededingers in Suid-Afrika hulle produkte in Korea vervaardig, sal jy beskerming in Suid-Afrika én Korea moet ondersoek.
Dié besluite kan jy net neem indien jy die mark vir jou toekomstige innovasie verstaan en dienooreenkomstig vanaf dag een die regte strategie volg.
Begin met die groter prentjie duidelik in jou kop: hoe beter jy die mark en behoeftes van jou toekomsverbruiker verstaan, hoe beter die kanse dat jou goeie idee nie net by braaivleisvure bespreek word nie, maar ’n Suid-Afrikaanse suksesstorie word.
- Lamprecht is uitvoerende hoof van Venture Solutions, ’n innovasiebestuur- en kommersialisasie-konsultant en aanbieder van SummitTV se weeklikse program oor intellektuele goederereg.
Teken in op Beeld, Die Burger of Volksblad om jou Sake24 elke dag te kry
|