Dit is nie maklik om ’n goeie salaris prys te gee om ’n droom na te volg nie. Vra maar net vir Silma van Deventer.
Dié eienaar van Zoé Media, voorheen Suburban Gloss Publishing – ’n sake-onderneming wat ses landgoedtydskrifte en ’n kunstydskrif insluit – het met geen media-ondervinding nie dié perd opgesaal.
“Ek wou iets doen wat vir my ’n passie sou wees,” sê Van Deventer oor die wending in haar lewe ná sy haar loopbaan as rekenaarprogrammeerder vaarwel geroep het. “Ek het net eendag vir my man gesê ek kan nie meer so aangaan nie.”
Nadat sy verskeie opsies oorweeg het, het sy haar visier gerig op funksie-beplanning. Sy het begin rondbel en by bestaande ondernemings van dié aard aangeklop vir raad. “Ek het baie mense gebel,” sê sy, “tog het ek die terugvoer hoofsaaklik negatief ondervind. Suid-Afrikaners is baie geslote. Hulle wil nie oopmaak oor wat werk en wat nie,” meen sy.
Uiteindelik het ’n vrou in Pretoria haar gekontak en voorgestel dat sy eerder haar eie landgoedtydskrifte uitgee en dat sy haar sal leer oor die bedryf. Dit was ’n hals-oor-kop-besluit. Sy het dadelik die regte vir die Featherbrook-tydskrif bekom, en sommer dieselfde dag by haar werk bedank. Groot was die skok toe die vrou haar vir opleiding R2 000 per tydskrif vra en haar kontraktueel daartoe wou verbind.
“Ek het net besef dat as ek dit onderteken werk ek weer vir ’n baas. Ek het die kontrak na haar teruggestoot en in die kar in trane uitgebars.”
Dit het maar moeilik gegaan in die eerste paar maande. Sy het ’n vriend wat as grafiese kunstenaar praktiseer, genader en met sy hulp het die eerste tydskrif die lig gesien. Só is Suburban Gloss Publishing in Februarie 2002 gestig. In 2003 is die tydskrifte van die Cornwall Hill-landgoed asook die Irene Farm Villages-landgoed ingesluit. Die Eldoglen-landgoedtydskrif in Eldoraigne, asook die Eagle Canyon-gholflandgoedtydskrif en die Aspen-natuurlandgoedtydskrif het in die volgende paar jaar by Suburban Gloss Publishing aangesluit.
“Alles wat ek weet, het ek geleer uit my foute,” sê sy. “Gelukkig het ek ’n natuurlike aanvoeling vir tydskrifte, iets wat ek nooit voorheen besef het nie.”
Van Deventer het ook Be My Guest, ’n kunstydskrif wat hoofsaaklik oor gebeurtenisse en kunstenaars in die Pretoria-omgewing handel, drie jaar gelede gekoop. Dié tydskrif is volgens haar ’n platform vir nuwe talent in Suid-Afrika. Daar word beplan om dit landwyd te versprei by hotelle, gastehuise en restaurante.
Vanjaar is die jaar van verandering. Suburban Gloss is vroeg vanjaar herdoop tot Zoé Media – wat staan vir “jou naam gee lewe”.
Ten spyte van die winsgewendheid van landgoedtydskrifte is daar ook ’n hele paar aspekte wat daarvan ’n taai bedryf maak. “Daar is baie politiek in ’n landgoed,” meen sy. “Mense kan baie moeilik en negatief wees.” Dít is egter verstaanbaar aangesien mense hier tot R15 miljoen bestee vir ’n woning. Geen ander pamflette word tot die perseel toegelaat nie en dit vergemaklik die soektog na adverteerders en verhoog ook die kans dat ’n advertensie in die tydskrif raakgesien word. Elke tydskrif het ’n gemiddelde verspreiding van 1 000 kopieë. Daar is ook altyd ’n kans dat die persoonlike gevoel verlore kan gaan. Daarom word ’n redakteur aangestel, een wat verkieslik in die betrokke landgoed woon, die opsigter van die landgoed skryf ’n brief, en 40% van die tydskrif word aan artikels afgestaan.
En as iemand háár nou nader vir hulp in die bedryf? “Ek sal versigtig wees. Daar is baie kompetisie in Suid-Afrika,” sê Van Deventer. “Maar ek sal weet dat my tydskrifte verby dít sal gaan wat ’n ander s’n kan lewer.”