As mnr. Henning M. Henderson (82) se volgende transaksie realiseer, koop hy vir hom ’n splinternuwe BMW-motorfiets!
Dié energieke uitvinder van Springs aan die Oos-Rand het reeds 75 verskillende produkte gepatenteer – party in verskeie lande.
Tans probeer hy een van sy Swirl Action Igloo All in One Cookers aan elke lid van die Amerikaanse Sjefsvereniging verkoop. Die netto wins sal hom miljarde rande in die sak bring en hy sal sy motorfiets kan gaan haal.
Henderson se eerste patent is in 1965 geregistreer. Hy was destyds die eienaar van Andrews’ Alarms in Springs en het ’n elektriese komponent ontwikkel om diewe te fnuik wat alarms onskadelik probeer stel.
Daarna het die Econolink gevolg wat meet hoe doeltreffend voertuigbestuurders hul brandstofpedale gebruik en wat regstellings maak om brandstofverbruik te verbeter, die Alert-o-Drive wat bestuurders waarsku as hulle ’n draai of stopstraat te vinnig nader en seker een van die bekendste, die Wonderdeksel wat op enige pot pas en kos blitsvinnig gaarmaak.
In ’n stadium het dit hom R500 000 ’n jaar uit die sak gejaag net om al dié patentregte te hernu.
Elke nuwe patent begin by ’n klip wat in Henderson se pad gerol word.
“Ek sê vir myself: Daar’s ’n probleem – los dit op!”
Die Econolink het die brandstofverbruik van Andrews’ Alarms se vloot bakkies afgebring.
Sy dogters het met die Alert-o-Drive leer bestuur en toe sy vrou hom los en hy self moes kos kook, het die Wonderdeksel gevolg.
Toe die verkeer in ’n besige straat in sy woonbuurt vier dae lank opgehou is om ’n spoedwal aan te bring, het hy ’n voorafvervaardigde spoedwal, kompleet met kat-ogies, ontwikkel wat in vier uur geïnstalleer kan word.
Wanneer Henderson ’n oplossing vir ’n probleem bedink het, begin hy eksperimenteer om die perfekte ontwerp te vind.
Hy het byvoorbeeld 75 pizzapanne gebruik om die regte volume gaatjies in die Wonderdeksel te bepaal. Elke keer het hy ’n gaatjie geboor, en gaan kook. Nog ’n gaatjie gaan boor, en weer gaan kook. Aanhouer wen mos.
Dié proses is soms baie prettig, lag hy.
“Jy moes sien hoe die mense my aangekyk het toe ek in die strate gery het met ’n blaker en brandende kers wat ek in my hand by die venster uit hou.”
Hy was besig om ’n ontwerp te toets wat kan verhinder dat kerse in plakkershutte omval en die hele plakkerskamp afbrand. Die basis van sy blaker spring elke keer regop en die kers het ’n deursigtige omhulsel met gaatjies in wat genoeg suurstof deurlaat om die vlam te laat brand, maar te min wind om dit te laat flikker. Die rit was daarop gemik om te toets of die volume gaatjies in die omhulsel die regte hoeveelheid wind deurlaat.
Wanneer die uitvindsel na sy sin is, bou Henderson ’n prototipe wat hy vir die wetenskaplikes gee “om vir my te sê hoekom dit werk”.
Henderson se eie opleiding is beperk tot elektriese werk en motorwerktuigkunde.
Hy het jare gelede byvoorbeeld met sy wonderdeksel en ’n bevrore biefstuk by die WNNR vir 12 ingenieurs gaan kos kook, waar?na hulle aan hom verduidelik het hoekom die Wonderdeksel gaarmaaktyd so drasties inkort.
Die WNNR, SABS en verskeie universiteite is al betrek.
Met die wetenskaplikes se skietgoed in die hand, is hy gereed om die produk te patenteer.
Dít gedaan, soek Henderson na ’n vennoot wat finansiering moet verskaf om die produk te kommersialiseer en oor ’n bestaande onderneming beskik waardeur die bemarking kan geskied.
Op dié gebied het hy al ’n paar bloutjies geloop. ’n Paar jaar gelede het ’n paartjie hom ingedoen met R25 miljoen, want “ek vertrou mense te maklik”.
Al Henderson se patente is egter nie ewe ernstig nie. Daar is die Porpoise, ’n platromp jetski waarop vier mense kan ry en wat nie kan omval nie. Hy, sy 73-jarige vriendin en sy twee kleinkinders baljaar nog gereeld daar?mee op die water.
En een van sy “nonsenspatente” kan jou ’n nekpyn spaar as jy tegelyk die telefoon se gehoorstuk moet vashou en iets op ’n stuk papier moet neerskryf. Dié apparaat word aan die gehoorstuk vasgeheg en kan die papier in posisie hou, eerder as dat jy die gehoorstuk teen jou skouer vasknyp om ’n vry hand vir die papier te kry!
Die Swirl Action Igloo All in One Cooker, waaraan Henderson nou werk, is ’n stoompot met ’n verskil. Dit maak verskillende kossoorte in een pot gaar, sonder dat die smake meng of dit kan vasbrand.
As hy dít aan die Amerikaanse sjefs verkoop kry, sal jy hom hoor skree: “Atoooowa!”
Met dié Zoeloe-wenkreet uit sy kinderdae in KwaZulu-Natal sal sy kinders weet “hulle kan begin spandeer!” en sal hy en sy vriendin hul valhelms nader trek.