Menige uitvinder daag by ’n patentprokureur op met die vraag oor of hy sy uitvinding moet patenteer.
Dit is heeltemal ’n ander vraag as om te vra “kan” ’n uitvinding gepatenteer word.
Laasgenoemde is ’n billike vraag wat ’n patentprokureur op grond van drie aspekte, naamlik die nuutheid, gebruiksnut en vindingrykheid van die idee of konsep moet kan beantwoord.
Prokureurs is nié markspesialiste nie.
’n Verantwoordelike prokureur behoort jou terug te vra wat jou sake-strategie is.
Of anders gestel, wat is die aard en omvang van die markbehoefte; wat is die uitvinder se vermoëns; en ondersteun dit in totaliteit die keuse om ’n patent (of soortgelyke beskerming) te registreer.
Dit is waar die pap gewoonlik op die grond val.
Die meeste uitvinders dink vir die eerste keer aan die belangrike aspekte van markontleding en ’n gepaste kommersialisering-strategie wanneer die bank begin krane toedraai, of die patenthernuwingsgeld agter raak.
Daar is verskeie strategieë ter sprake by die beskerming van intellektuele goedere, soos patentering, geheimhouding, of om ander aspekte van die konsep te beskerm deur middel van ’n handelsmerk, ontwerpsreg of ook outeursreg.
Ten einde die korrekte keuse te doen, is dit kritiek dat die uitvinder vooraf besluit op die gepaste sake-strategie en dienooreenkomstig die intellektuelegoederereg identifiseer wat die beste daarby pas.
So waarheen dan indien ’n mens geld uit ’n blink idee wil maak?
Beskerm eerste die idee alvorens daar met buitepartye gepraat word.
Die uitvinder moet dan kies uit ’n strategie van openbaarmaking – waar ’n patent die nodige beskerming kan bied – of geheimhouding, waar geen formele registrasie plaasvind nie, maar die uitvinder eenvoudig aan niemand die familiegeheime uitlap nie.
Geheimhouding is ’n goeie keuse waar die onderliggende uniekheid nie maklik deur visuele of ander bestudering verklap kan word nie; die geval met die resep vir Coca-Cola.
Indien die patentroete gekies word moet ’n uitvinder onmiddelik ’n voorlopige patent indien, voordat hy met enigiemand gesels.
Koste is min in vergelyking met dié vir markontleding of produkontwikkeling, en bied ’n tydperk van 12 maande se beskerming waartydens meer huiswerk oor die mark gedoen kan word.
In hierdie periode moet die uitvinder nie op sy louere rus nie, maar proaktief al die sake- en markverwante inligting insamel vir kommersialisasie.
Met hierdie inligting kan die uitvinder dan vier vrae ondersoek, om die keuse oor formele patentbeskerming te maak.
Eerstens moet hy weet of hy ’n monopolie nodig het om ’n mark vir die uitvinding te ontwikkel.
In sulke gevalle wil ’n uitvinder tyd skep om die mark te betree of dalk die produk afrond, voordat dit in die mark uitgereik kan word.
’n Voorbeeld hiervan is die farmaseutiese bedryf waar maatskappye letterlik jare neem om ’n produk te toets en ontwikkel.
Onthou dat die markomgewing vir die betrokke produk daarop ingestel is om nuwe produkte graag en maklik na te maak.
Dit is ook nodig om te bepaal watter mark geteiken word, aangesien daar nie iets soos ’n “wêreldpatent” bestaan wat regte in alle markte toestaan nie. Hierdie ondersoek moet in ag neem in watter markte daar verkoop, sowel as vervaardig sal word, asook die markte waar mededingers gevestig is, ten einde daar beskerming te verkry.
’n Tweede geval is waar die uitvinder eerder die uitvinding wil lisensieer aan ’n derde party.
Lisensiëring is die gewildste metode om intellektuele goedere te kommersialiseer en is veral nuttig waar die uitvinder nie die vermoë het om al die stappe van idee tot finale produk te hanteer nie.
Die derde vraag is geskoei op die feit dat patente en portefeuljes van intellektuele goedere die manier is waarop maatskappye vandag bates bou.
So het MTN onlangs aangekondig dat amper twee derdes van die maatskappy se markkapitalisasie in intellektuele bates vervat is.
Dan is daar ook die Amerikaanse mark om in gedagte te hou.
Sake doen in die VSA sonder patente is so uit soos die Bulls se kanse in die Super14.
Patente is ’n voorvereiste vir sinvolle besigheid hier en vorm die basis van alle innovasie-aktiwiteite, veral by die lok van beleggers.
Daarsonder word jy eenvoudig nie ernstig opgeneem nie en raak jy gou die teiken van ’n aggressiewe Amerikaanse litigant.
Hierna word dit ’n kwessie van kommersialisasie.
Nadat die nodige intellektuelegoederestrategie afgeskop is, kan die uitvinder na vrye wense marknavorsing doen om te bepaal hoe die idee of konsep na die mark gebring moet word.
Daar is verskeie kommersialiseringsmodelle om van te kies. Een is om alles self te doen; self te vervaardig, te verpak, te verkoop en in die mark te ondersteun.
’n Ander is om die hele kaboedel aan ’n derde party te verkoop en so alle regte aan die nuwe eienaar oor te dra. Dit was Mark Shuttleworth se manier om miljoene te verdien.
Derdens kan ’n uitvinding in ’n vennootskap ontwikkel word waar ’n ander party waarde toevoeg in areas waar die uitvinder nie gemoeid is nie. En dan, soos genoem, kan die uitvinding in die vorm van intellektuelegoedereregte gelisensieer word.
Ten einde die korrekte model te kies en dit suksesvol uit te voer, is dit noodsaaklik om van die begin af na die mark te kyk, mededinging te verstaan en hand in eie boesem te steek om te bepaal wat die uitvinder self kan doen en wat nie.
Te veel uitvinders ignoreer hierdie stappe en jaag dadelik na die naaste patentprokureur, registreer ’n patent en verwag wonderwerke van hierdie stukkie papier.
- Lamprecht is uitvoerende hoof van Venture Solutions, ’n innovasiebestuur- en kommersialisasie-raadgewer; aanbieder van SummitTV se weeklikse program oor intellektuelegoederereg; en president van die Licensing Executives Society van Suid-Afrika.