Genealogie (die studie van iemand se voorouers en hul nageslagte) is ’n onderwerp wat mnr. Siphiwo Shaba?ngu na aan die hart lê.
Die spoor van sy eie voorouers, sê hy, kan hy in die tyd terug volg tot in die 1300’s waar sy oervaders en -moeders in die omgewing van die huidige Ethiopië en Soedan gewoon het.
So maak die spoor ’n draai deur Wes-Afrika, waarna ’n aaneenlopende suidelike migrasie daartoe sou lei dat Shabangu se ma haar in die middel van die 1900’s in Soweto bevind.
Dit is Shabangu se eie omswerwinge wat ’n sake-geleentheid, met ’n toevallige ontmoeting met Irannese in Duitsland, laat opduik het.
Hy is tans die Suid-Afrikaanse vennoot van die Zollanvari-familie, ’n Irannese groep wat wêreldwyd as ’n vervaardiger en verspreider van Persiese tapyte van gehalte erken word.
Dié vennootskap is gebore in 1996, by ’n meevaller-geleentheid waar Shabangu ’n sakebestuurkursus in Europa bygewoon het.
Hy was toe die eienaar van ’n volvloermatonderneming in Dobsonville (ook Soweto) en die Johannesburgse kamer van koophandel en nywerheid het die reis geborg.
Shabangu het op ’n afdag ’n handelskou vir matte en vloerbedekkings in Hannover bygewoon.
Moeg ná ’n dag se rondstap, vertel hy, het hy ’n paar minute langs die stalletjie van die Zollanvari-familie gesit om asem te skep.
Die Zollanvari’s was geamuseerd (want volgens Shabangu was dit nie aldag dat hulle in aanraking met swartes gekom het nie) en het sake-geselsies met dié vreemdeling van “Mandela se land” aangeknoop.
“Ek het absoluut niks van Persiese tapyte geweet nie,” sê Shabangu. “Maar die Zollanvari’s was oortuig hulle kan geld maak in Suid-Afrika en het my gevra om die mark te ondersoek.”
Iets waarin Shabangu wél toe al goed gekonfyt was, is die vermoë om te verkoop.
“Ek het my my hele lewe lank nog self onderhou.
“Op laerskool het ek lekkers en appels verkoop en op hoërskool was dit koerante en lekkergoed op die treine.
“Dit is al wat ek heeldag gedoen het – verkoop, verkoop, verkoop.”
Ná skool het hy tien jaar lank vir ’n salaris gewerk, waarna hy linne uit die kattebak van sy motor verkwansel het.
Shabangu se volgende stap was die volvloermatonderneming.
Die Zolanvari’s se eerste proeflopie in die Suid-Afrikaanse mark, op aanbeveling van Shabangu, was die Decorex-dekorware-uitstalling in Johannesburg.
“Hulle (die Zolanvari’s) was uit hul vel oor die reaksie wat daar was. Ons het net daar besluit om ’n vennootskap te begin.
“Ek sou die onderneming aan hierdie kant bestuur, en hulle sou voorraad en ’n R1 miljoen vir bedryfskapitaal vooruitskiet.”
Die eerste winkel het dieselfde jaar sy deure in Rosebank, Johannesburg, oopgemaak.
Verkope was goed, met nog takke wat in Kaapstad en Durban begin sake doen het.
Shabangu meen dat die Suid-Afrikaanse mark grootliks oningelig is omtrent Persiese tapyte en die faktore wat gehalte en die vraprys beïnvloed.
Die goedkoopste tipe mat wat Zolanvari’s verkoop, is ’n mat met 100 steke per vierkante duim.
So ’n mat, wanneer dit net minder as 2 m in die lengte en ongeveer 1,5 m in die breedte is, kan die koper R5 000 uit die sak jaag.
Wanneer dieselfde grootte mat uit 500 steke per vierkante duim bestaan, sal dit jou nagenoeg R12 000 kos.
Tans, sê Shabangu, voer die onderneming ongeveer R24 miljoen se Persiese tapyte jaarliks in.
Maar hy bieg ook dat dinge op die oomblik minder rooskleurig lyk.
“My teikengroep is besig om die land te verlaat, en mededingers raak al hoe sterker en skelmer,” sê hy.
“Hierdie bedryf is vol skelms. Voor jy jou kom kry, het iemand uit Iran sy matte hier kom dump.”
Shabangu voel ook aan sy eie sak hoe verbruikers deesdae minder geld het om aan luukshede te bestee.
“Ek kry nou baie minder reaksie op advertensies en uitverkopings as voorheen,” sê hy.
Soos ander ondernemings ook op die oomblik genoop is om te doen, sê Shabangu hy bestuur laer verkope deur op elke moontlike manier koste te besnoei.
“Jy neem nie byvoorbeeld iemand anders in diens wanneer ’n werker loop nie, bestee minder tyd op die foon en maak seker daar is ’n goeie rede vir elke sent wat jy uitgee,” sê Shabangu.
)
andre.jvvuuren@sake24.com