Die besluit om ’n onderneming te begin is altyd ’n beproewende ervaring vir ’n salaristrekker, maar me. Natasha Scott sal die ervaring, of die lang en uitdagende ure, vir niks verruil nie.
Dié franchise-houer van Primi Plush het in 2000 as ’n kelner by dié franchise begin werk.
Kort daarna is sy vanweë haar ambisie en dryfkrag bevorder tot bestuursvlak waarna sy na die franchise-gewer se hoofkantoor verskuif het.
’n Geleentheid om self ’n franchise te besit het hom skielik in 2005 voorgedoen toe die Primi-franchise in die San Ridge Square-winkelsentrum in Midrand beskikbaar geraak het. “Ek wou nog altyd my eie onderneming besit, maar het nie geweet hoe om die finansiering te bekom wat nodig is nie.”
In dié tyd het die franchise-gewer navorsing gedoen oor verskillende finansieringsopsies, maar finansiële instellings en banke het nie tougestaan om Scott se onderneming te finansier nie.
“Ek het my eiendom verkoop om kapitaal bymekaar te skraap en kon gevolglik geen sekuriteit vir die lening bied nie. Ek het ook net drie maande gehad voordat ek die franchise moes open. Gelukkig het Business Partners tot my redding gekom.
“Ek en my vennoot in daardie tyd het met hulle vergader, ’n onderhoud gehad en omtrent ’n maand later finansiering verkry.”
In 2005 was daar net vier Primi’s in Johannesburg terwyl daar in hoevele Kaapse woonbuurte só ’n restaurant was. Scott het in die franchise-konsep geglo en geweet dat so ’n restaurant in Midrand sou slaag.
Die oorgrote meerderheid van die San Ridge Square-winkelsentrum se klante is van die opkomende swart-middelklas en Scott het gemeen dat dié verbruikers die onderneming sal ondersteun.
“Al hoe meer mense beweeg na gevestigde handelsname en dit gee ’n mens ’n beter kans op sukses,” sê sy.
“Om die onderneming te laat gedy, beteken 16-uur-dae. ’n Mens moet besluit of jy bereid is om dit te doen.”
Die makro-ekonomiese klimaat het ook sedert 2005 beduidend verander.
“Jy moet probeer om soveel moontlik van die prysverhogings te absorbeer, maar ongelukkig is dit uiteindelik die verbruiker wat die grootste deel daarvan sal moet dra.”
Ten spyte van die franchise-gewer se vermoë om die uitwerking van stygende voedselpryse te beperk, kom verbruikers toenemend onder druk weens stygende rentekoerse, wat beteken dat hulle minder besteebare inkomste het.
Scott glo dat dit haar onderneming toenemend onder druk sal plaas en dat sy daarom pro-aktief moet wees om te verseker haar restaurant bly oop vir sake in dié moeilike tyd.
Om dit te bereik, sê Scott, moet ’n mens probeer om pryse billik te hou terwyl verseker word dat verbruikers uitstekende diens en selfs beter kos kry.
“Mense sal steeds uiteet en as hulle dit minder gereeld as in die verlede doen, moet jy seker maak dat hulle terugkom na jou restaurant toe – hulle moet 100% tevrede gestel word.”