Hou stil by die verkeerslig op die hoek van Melville in Johannesburg se Rustenburglaan en Negende Straat, en die leefstylsentrum Bamboo vang dadelik die oog.
Op groot reklameborde staan name soos Service Station, Black Coffee, Smelt, Tinsel, The blooming plate . . .
Geen franchises in dié sentrum nie – die hoofstroom is hier ongewoon.
Dit is nie toeval nie. Die geesteskind van me. Alison Green en haar man, mnr. Barry Gould, is van dag een af só beplan.
“Bamboo het van die begin af ontwikkel om alles te wees wat ’n winkelsentrum nie is nie,” sê Gould.
En só het kliënte dit leer ken.
Verlede maand het die opening van Smelt – die nuutste toevoeging tot die sentrum en die eerste glasblaas-studio in die land, meer as 500 belangstellendes getrek – en dit in ’n ruimte van slegs 60 m2.
Mee. Martli Jansen van Rensburg en Ilse Doyer, die eienaars, skryf die sukses van die opening gedeeltelik aan Bamboo toe.
Dit is volgens hulle ’n naam wat mense herken – en dit het die wag vir die goedkeuring van ’n huurkontrak die moeite werd gemaak. Want wat huurders betref, is die eienaars van dié gebou kieskeurig.
Die feit dat dit nie jou gewone sentrum is nie asook die direkte kontak tussen die eienaars en die huurders, maak dat die sentrum ’n huis vir die huurders se winkels word, meen Gould.
“Dit is ’n persoonlike verhouding,” sê Green. “Daar is geen wegkruipkans as dinge nie reg gaan nie.”
Gould en Green woon op ’n plaas in Houw Hoek – sowat 45 minute buite Kaapstad, waar hulle die Wildekrans Country House bedryf. Gould is ’n argitek en Green bestuur die gastehuis en baie van Bamboo se sake van hier.
Green besoek Johannesburg so een keer per maand.
“Ons is vennote in sake én in die lewe,” sê Green.
Die afstand pla hulle nie veel nie – die huurders bestuur self hulle winkels en hulle het ook ’n opsigter, mnr. Victor Nsebele, wat op die perseel woon.
“Ek ken hom al 20 jaar en nege jaar daarvan is hy reeds ons oë en ore,” vertel Gould.
Bamboo kry sy naam van ’n winkel wat eens dié ruimte gevul het, Bamboo Products. Hier is produkte van bamboes geweef en verkoop.
Die eienaar was volgens Gould ’n moeilike man. “Ons het elke dag verby die winkel gery,” vertel hy. “Ons wou dit graag koop, maar daar was baie mense wat belang gestel het en baie aanbiedinge is gemaak.”
Hoewel die eienaar huiwerig was om te verkoop, het Green geweier om nee vir ’n antwoord te neem.
“Hy wou nie hê dat die plek sy gees verloor nie. Hy het gesê: ‘Ek wil nie eendag hier instap en dan kyk julle my aan asof ek nie hier hoort nie,’ ” vertel sy.
Die gebou was oorspronklik ’n motorhawe, met ’n melkwinkel langsaan en feitlik geen veranderinge is oor die jare aangebring nie. Die sake-paar, wat minimale restourasiewerk aan die gebou wou doen, het uiteindelik sy guns gewen.
“Dit is nie ’n merkwaardige stuk argitektuur nie,” sê Gould, “maar dit is ’n baken in Melville.”
Daar is beplan om dit so te hou.
Huurkontrakte is van dag een af slegs aan Suid-Afrikaanse sake-ondernemings toegestaan. En daar is nooit daarvan wegbeweeg nie, vertel hulle. Soms het baie tyd verbygegaan voor die regte huurders gevind is – mense wat bereid was om hulle styl, en hulle hart, in die winkels te sit.
Service Station, ’n bekende kuierplek in die omgewing, is reeds nege jaar hier, en met sy gewilde buffet-etes lok hy baie klante. Ronde tafels staan nou waar daar eens petrolpompe was.
“Die mense staan daagliks in rye en die plek is gewoonlik vol gepak, dít terwyl die spyskaart oor al die jare basies onveranderd gebly het,” sê Green. “ Mense hou daarvan om hier te kuier, hulle vind die ruimte gemaklik.”
In Tinsel word kontemporêre juweliersware deur Suid-Afrikaners verkoop. Die eienaars het die ligging van die winkel, asook die ruimte, begin vanjaar in ’n onderhoud as “perfek” beskryf.
Upstairs @ Bamboo word vir tydperke van 10 dae aan kunstenaars verhuur.
Volgens Green en Gould is dit veral kunstenaars wat nog nie die hoofstroom betree het nie, wat dié ruimte huur. Die koste is ook veel laer as dié van die vername kunsgalerye.
Die paartjie beplan reeds aan die volgende toevoeging tot die Bamboo-familie – ’n voedselmark. En nie sommer enige voedselmark nie. “Ons gaan baie spesifiek wees. Dit gaan tuisgemaakte kase en die beste eiers hê,” vertel Green.
Dit sal hopelik in die lente oopmaak.
Green beskryf Bamboo as ’n stil hawe in die middel van die woeste stadslewe, ’n plek waar die eienaars getrou bly aan die produkte in hulle winkels.
En die ligging – volgens haar is dit ’n bonus.
“Die wêreld ry hier verby,” sê sy, “in watter rigting hulle ook al gaan.”