’n Basiese kennis van kontrakte is vandag ’n fundamentele vereiste om in die kennis-ekonomie te kan werk.
Murphy se wet sê dinge wat verkeerd kán gaan, sál; kontrakte help om te verduidelik wat om te doen nadat Murphy sy werk afgehandel het.
So hoe maak ’n mens?
Behalwe vir die basiese aspekte wat in elke kontrak moet wees, soos ’n omskrywing van die onderskeie partye, ’n uiteensetting van die saak van belang, en wat gedoen moet word as dinge verkeerd loop, is daar ander belangrike aspekte om in gedagte te hou.
’n Kontrak verskaf ’n omskrywing van ’n sekere ooreenkoms of verhouding tussen twee of meer partye.
Alvorens ’n mens dus verstrengel word in regstaal moet jy goed nadink oor wat jy met die sake-transaksie wil bereik.
Om jou bedoelings direk in kontrakvorm te verwoord, is ’n baie moeilike en langsame proses, en dikwels bestee die onderskeie partye al hul tyd om die bewoording regstegnies reg te kry, terwyl die aard van die transaksie nog nie ordentlik deurdink is nie.
Begin dus om eers versigtig na te dink oor wat jy wil doen en hoe jy dit wil bewerkstellig.
Onderhandel dan daaroor met die ander party(e) en eers wanneer dit vir almal sin maak, kan dit in regstaal verwoord word.
Dit is nog meer van toepassing as jou transaksie met innovasie-samewerking of nuwe uitvindings te make het.
Die wêreld van intellektuelegoederereg en uitvindings kan baie abstrak word.
Daarom, maak eers seker presies hoe jy dinge wil laat werk, of wat aan wie behoort en oorgedra gaan word, alvorens jy dit in regstaal probeer omskryf.
Deesdae, met die internet, kopieer mense gou-gou iemand anders se kontrak en pas net die dele wat nie van toepassing is nie aan.
Wat begin as ’n manier om tyd te bespaar, skep later baie moeite en verwoord dalk dinge op ’n wyse wat nie die bedoeling van die nuwe partye is nie.
Tipiese probleme met die “kopieer en plak”-metode is dat daar al soveel skrywers van die dokument was, dat dit nie meer duidelik is wie is wie, en wie wat moet doen nie.
Sulke onduidelikhede maak dit frustrerend om die kontrak te interpreteer.
En dan moet jy “onafhanklike” derdepartye, soos ’n prokureur inroep om die grys-gebiede uit te pluis.
Prokureurs interpreteer ’n kontrak presies soos wat dit swart op wit verwoord is.
As dit nie sê wat jy bedoel het nie, dan word die bedoeling dit wat jy neergeskryf het, nie dit wat tussen jou en jou kopkussing bespreek is nie.
Sake-kontrakte word gewoonlik onderneem in ’n gees van entoesiasme en optimisme.
Die laaste ding waaraan nuwe vennote wil dink, is wat gebeur as dinge verkeerd loop; niemand begin tog met die doel om te misluk nie.
Dink daaraan soos ’n paartjie wat voor hul huweliksdag pynlik moet nadink oor die verdeling van eiendom wat hulle nog nie eens het nie, in die geval van ’n toekomstige dag waar hul huwelikstrein dalk die spoor byster raak.
Dis waar ’n prokureur ’n uitstekende adviseur is, want prokureurs word geleer om aan dinge te dink wat reg in die middel van jou blindekol val.
Daar word nie verniet van die sogenaamde duiwelsadvokaat gepraat nie.
Nie alle ooreenkomste kan vir ewig hou nie.
Baie kontrakte word só naïef opgestel dat die partye dit heeltemal uitlaat om te spesifiseer wanneer en op watter wyse die verhouding tot niet sal gaan.
Betrek kundiges en laat hulle jou help.
Onthou ook dat die gehalte van die prokureur se insette direk afhanklik is van die gehalte van instruksies wat hy van jou ontvang het.
Die prokureur bedryf nie jou sake nie. Hy verstaan nie jou ambisies en drome met betrekking tot jou planne nie.
Deur jou aspirasies dus noukeurig te beskryf, dit akkuraat te formuleer en dan sorgvuldig aan die regskundige te kommunikeer, behoort jy ’n kontrak te onderteken wat vir almal sin maak.
) Lamprecht is uitvoerende hoof van Venture Solutions, ’n innovasiebestuur- en kommersialisasie-raadgewer; aanbieder van SummitTV se weeklikse program oor intellektuelegoederereg; en president van die Licensing Executives Society van Suid-Afrika.
>> As dit nie sê wat jy bedoel het nie, dan word die bedoeling dit wat jy neergeskryf het, nie dit wat tussen jou en jou kopkussing bespreek is nie.