Carin Smith,
“Die kenmerk van entrepreneurs is dat wanneer ander verlam word deur ’n probleem, hulle sê: ‘Kom ons los die probleem op’.”
Só het mnr. Siyabonga Mapoko, skrywer van die boek Conversations with JSE AltX Entrepreneurs gesê.
Hy was die gasspreker tydens ’n praatjie by die Universiteit van Kaapstad se nagraadse bestuurskool (UK GSB).
“Die meeste van die huidige uitdagings in die sakewêreld moes al in die verlede oorkom word. Dit is niks nuuts nie. Daarom het ek gedink dit sal van waarde wees om by suksesvolle entrepreneurs uit te vind hoe hulle geslaag het. Dit sal baie tyd spaar om dieselfde ding oor en oor te moet skep,” het Mapoko gesê.
Dit was ook vir hom belangrik om Suid-Afrikaanse entrepreneurs se suksesverhale te boekstaaf.
Mapoko het ’n honneursgraad in aptekerswese aan die Universiteit van Kaapstad behaal voordat hy as aandelemakelaar by Investec Batebestuur gaan werk het. Ná ’n paar jaar het hy sy eie digitale advertensiemaatskappy, iCaptive Corporate Network, op die been gebring.
’n Mate van koppigheid is beslis een van die eienskappe wat ’n entrepreneur behoort te hê, het mnr. Ian Lourens, stigter van Postnet, aan Mapoko gesê, want entrepreneurs skep dinge wat nog nooit voorheen bestaan het nie.
Mnr. Bashier Adam, uitvoerende hoof van die professionele-dienstemaatskappy SAB&T Ubuntu het vertel hoe hy sy onderneming aanvanklik uit sy motorhuis bedryf het. “Die dak het gelek en as dit hard gereën het, was ons enkeldiep in water.”
Die gevolgtrekking waartoe Mapoko uit die onderhoude gekom het, is eerstens dat entrepreneurs op groot skaal dink. Hulle maak tyd om te dink en span hul verbeelding in om dinge raak te sien wat ander miskyk.
Só het mnr. Carlo Gonzaga Scooters Pizza begin toe hy 26 jaar oud was. Mnr. Jason Drew van die Dialogue Group was op besoek aan Kaapstad verbaas om te sien niemand het nog die geleenthede wat die inbelsentrumbedryf bied, raakgesien nie.
Tweedens stel entrepreneurs doelwitte vir hulself en is passievol om dit te bereik. Hul ander belangrike eienskappe is toewyding aan aksie en nie net ’n blote gepratery oor moontlikhede nie. “Leer om vir jouself te dink. Ek het op die platteland in die Pedi-omgewing grootgeword en vandag het ek my eie maatskappy. Dit hang van elke mens af om sy negatiewe gedagtepatroon te verander en ’n sukses te maak,” het Mapoko gesê.