Vanjaar kan die keerpunt wees wat internetgebruik in die land woema gee.
Die beskikbaarheid van breëband-konnektiwiteit, wat goedkoper en doeltreffender is as waaraan Suid-Afrikaners tot dusver gewoond was, is voor die deur, sê mnr. Kevin Grey, mede-eienaar van die inligtingskommunikasie-maatskappy Online Innovations.
Vir hul maatskappy hou dit groot belofte in, sê mnr. Dirk Erasmus, wat die maatskappy in 2000 saam met Grey begin het.
Erasmus is verantwoordelik vir die algemene bestuur, administrasie en tegniese kwessies, terwyl Grey se sterk punte ontwerp, bemarking en verkope is.
Hulle glo miljoene meer mense sal die internet in die toekoms gebruik. Daar is dus ruimte vir groei en hulle geniet ná agt jaar steeds wat hulle doen.
Online Innovations help kliënte om die internet as ’n doeltreffende instrument te gebruik deur inligtingstegnologie en sakeprosesse te kombineer. Hy ontwikkel treffende webwerwe en doeltreffende intranet- en ekstranet-toepassings.
Inligtingstegnologie, kommunikasie en advertensies word bymekaargebring en werk saam, verduidelik Erasmus.
Die feit dat Online Innovations uit Port Elizabeth werk, het die span ontwerpers nie beperk tot kliënte binne die landsgrense nie.
Onder hul internasionale kliënte tel Premier Resorts, ’n Londen-gesetelde beleggingsmaatskappy in leefstyleiendom, die St. Andrew’s Golf Company, South Key Travel en ’n oogkundige-groep in Europa.
Aanvanklik was dit vir kliënte moeilik om te dink hulle kan sake doen met ’n web-ontwerper wat nie saam met hulle by die tafel sit nie, maar nou is mense gewoond daaraan, sê Grey.
Die jongste veer in Online Innovations se hoed is die nuut ontwerpte webblad van die bekroonde Mantis Collection, wat spesialiseer in boetiekhotelle en luukse wildreservate soos Shamwari in die Oos-Kaap.
Suid-Afrikaanse kliënte sluit in die radiostasie Algoa FM, die komediant Barry Hilton, SpecSavers, Bridgestone Suid-Afrika, Continental Tyre en Eveready.
Hul jare lange ervaring in die bedryf en die ontwikkeling van webwerwe vir bedrywe wat strek van joga tot inkopies, help hulle om vinnig te begryp wat ’n kliënt wil hê en wat hy van ’n webwerf verlang, sê die span.
Vir Premier Resorts is ’n aanlyn-bestuurstelsel ook ontwikkel waardeur die webwerf-besoeker herlei kan word na die regte verkoopskonsultant vir ’n spesifieke oord, wat sal reël vir ’n besoek en die kooptransaksie kan deurvoer.
Die webwerf vir die Ysterman-kompetisie wat jaarliks in Port Elizabeth gehou word, is ’n stelsel wat alles vir dié kompetisie hanteer – van registrasie en betalings, tot T-hemp-bestellings en mediese reëlings.
Vir Bridgestone is ’n stelsel ontwerp waar kliënte maandeliks al hul fakture, state, nuusbriewe en ander dokumente aanlyn kan kry. Dít bespaar die maatskappy baie geld omdat dit papierwerk en telefoonoproepe grootliks uitskakel, sê Erasmus.
Die span se kennis van ont?werp?reëls maak dit moontlik om enige webwerf op te kikker met die regte struktuur en kleur, goeie foto’s en die doeltreffende gebruik van ’n logo, sê hy.
’n Goeie webwerf vind die goue middeweg tussen genoeg inligting, visuele aantreklikheid en doeltreffende bemarking. Maatskappye moet besef hulle ontwerp nie die webblad vir hulself nie, maar vir kliënte. “Ons weet hoe om ’n maatskappy op die internet voor te stel dat hy goed lyk, aandag trek en gebruikersvriendelik is.”
Die internet is vir al hoe meer mense die eerste kontak wat hulle met ’n maatskappy of onderneming het en daarom is voorkoms baie belangrik. Eerste indrukke is blywend, herinner Grey.
Geen enkele aspek van ’n webwerf moet oordadig wees nie. Daar moenie te veel klem op die inhoud wees nie, maar sonder korrekte inligting kan soekers nie jou webwerf opspoor nie.
Materiaal op ’n webwerf moet ook gereeld bygewerk word, maar dit bly dikwels agterweë. Volgens Grey behoort elke maatskappy ’n toegewyde web-span te hê.
Om sy kliënte hiermee te help, het Online Innovations volgens Erasmus ’n eenvoudige en praktiese oplossing ontwikkel waardeur die maatskappy self die inhoud en kopie op die webwerf in stand kan hou, sonder enige gespesialiseerde vaardig?hede of programmatuur.
Hulle hou hul kantoor klein – tans agt mense – wat in ’n informele, gemaklike, maar professionele omgewing saamwerk. In dié bedryf moet jy die regte mense in diens neem, hulle die regte stimulasie gee en goed betaal, sê Erasmus.
Ja, die maatskappy kan seker sy omset vervyfvoudig en drie maal meer personeellede in diens neem as hy Johannesburg toe skuif, maar dié twee gebore Baaienaars verkies om in Port Elizabeth te bly. Hulle is lief vir die see, lief vir die omgewing en geniet die leefstyl hier.
Dis tog waarvoor tegnologie daar is: sodat jy kan werk van net waar jy wil.