Entrepreneurskap gedy meer in Kaapstad as in die res van die land.
Só is in ’n internasionale studie bevind wat die vlak van entrepreneurskap in 34 wêreldstede ondersoek het. Die studie het spesifiek op vroeëstadium-entrepreneurskap – ondernemings wat korter as drie en ’n half jaar bestaan – gefokus.
Volgens die verslag, wat deel vorm van die entrepreneurskapprojek van Nederland se departement van ekonomiese sake, is die getal geleentheidsgebaseerde entrepreneurs in Kaapstad uitgedruk as deel van die bevolking, 190% meer as die gemiddelde vir Suid-Afrika. In vergelyking is vroeëstadium-entrepreneurskap in Johannesburg ongeveer 60% meer as die nasionale gemiddelde.
Geleentheidsgebaseerde entrepreneurskap verwys na dié ondernemers wat uit ’n spesifieke geleentheid wil munt slaan, teenoor diegene wat ’n onderneming begin omdat hulle op geen ander manier ’n inkomste sal kan verdien nie.
Volgens dr. Mike Herrington, direkteur van die sentrum vir vernuwing en entrepreneurskap by die Universiteit van Kaapstad se nagraadse bestuurskool, is dit belangrik om vas te stel watter faktore daartoe bydra dat Kaapstad soveel meer entrepreneuries is.
“Deur dit te verstaan, sal Suid-Afrikaners dit elders kan nadoen,” sê hy.
Een van die bydraende faktore is dat 70% meer Kapenaars (20% meer in Johannesburg) vergeleke met die res van die land glo hulle het die vermoë om ’n eie onderneming te begin.
“Daar is ’n interafhanklike verhouding tussen sommige van die karaktereienskappe van ’n metropolitaanse stad, die aantal talentvolle mense wat daar woon en die vlak van entrepreneursbedrywighede,” sê Herrington.
“Talentvolle mense is meer kreatief as die res van die bevolking; hulle is meer entrepreneuries en verkies daarom om in stede te woon wat gekenmerk word deur ekonomiese welvaart en kennis-intensiteit.
“Stede soos Kaapstad en Johannesburg het ook goeie infrastruktuur wat veral vir jonger en hoogs opgeleide mense van waarde is. Dit verhoog beslis die getal entrepreneurs.”
In die studie is egter ook terreine uitgewys waarop Kaapstad en Johannesburg nie goed gevaar het nie.
Slegs 5% van die vroeëstadium-entrepreneurs in Kaapstad en 6% in Johannesburg maak van die jongste tegnologie vir hul sakebedrywighede gebruik. Dit is aansienlik laer as die 48%-koers in ontwikkelde ekonomieë, wat beteken die meeste entrepreneurs sal nie in staat wees om op ’n internasionale vlak mee te ding nie.
Albei stede vaar ook sleg wanneer dit kom by die bekendstelling van nuwe idees of produkte; die meeste is idees van elders wat hier nagedoen word.
Die tendens wat volgens Herrington die meeste kommer behoort te wek, is dat net 15% van die nuwe ondernemings in hierdie stede verwag om tien of meer mense binne 15 jaar in diens te neem.