In vergelyking met korporatiewe ondernemings, moet die onafhanklike entrepreneur dikwels in isolasie sonder ’n netwerk van kontakte en ondersteuningsdienste sy onderneming bestuur.
Voorts, vanweë hul grote en struktuur, het ’n onafhanklike onderneming in die meeste gevalle nie genoeg sleutelvaardighede in bestuursposisies wat noodsaaklik is vir die groei van ’n onderneming nie.
Om in hierdie behoefte te voldoen het die Institute of Independent Business (IIB) ’n ondersteuningsprogram geskep waarvolgens ’n reeks dienste, na gelang van die ondernemer se behoefte, beskikbaar gestel word.
Hiervolgens sal ’n sake-adviseur teen geen koste ’n eerste afspraak met ’n klant reël. ’n Behoefte-ontleding word uitgevoer, waarná die adviseur met behulp van ’n reeks analitiese tegnieke homself ten volle met die onderneming vertroud maak.
Sodra die onderneming se behoeftes bekend is, sal die adviseur van sy netwerk gebruik maak om in die behoeftes te kan voldoen.
Sulke dienste kan onder meer insluit die opstel van sake- en bemarkingsplanne, ontledings van mededingers en begrotings, die uitvoer van wesenlikheidstudies en die herstrukturering van ’n onderneming. Die ondernemer kry toegang tot dié dienste deur ’n maandelikse retensietarief te betaal, wat beteken dat hy op enige tydstip toegang tot ’n diens sal hê sonder om enigiets ekstra te betaal.