Wat laat twee beroepslui die korporatiewe wêreld vaarwel toeroep sodat hulle mense se gordyne kan skoonmaak?
Dít gebeur as mens op ’n punt kom waar jy nie meer verantwoording teenoor iemand anders wil doen nie en eerder jou eie kop wil volg.
Dít is die siening van die Durbanvillese egpaar mnr. Piet en mev. Magda le Roux.
“Ons is albei goed gegradueer en nie onnosel nie, maar ons was ontevrede met ons beroepe,” vertel Piet in die woonkamer van sy huis, wat ook dien as kantoor vir die skoonmaak-onderneming On-Site Cleaning.
Hy is eintlik ’n gekwalifiseerde sielkundige, maar in sy soeke na werks?tevredenheid was hy al ’n restaurant-eienaar, in die eiendomsbedryf en het hy selfs roomys uit ’n kombi verkoop.
Magda, met ’n graad in B.Sc. Rekenaarwetenskap, was ’n sake-ontleder voordat sy saam met Piet die entrepreneurskapspaadjie aangedurf het.
Hulle het begin navorsing doen oor produkte met groeipotensiaal wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar was nie.
Hulle het besef dis altyd ’n gesukkel om blindings en gordyne skoon te maak, want dit moet afgehaal en weer opgehang word. Só het die idee ontstaan van ’n produk en proses wat die afhaal van die blindings en gordyne oorbodig maak. Hul navorsing op die internet het hulle by die On-Site-franchise in die VSA uitgebring.
Vir Piet was dit só belangrik om seker te maak die produk wérk dat hy in Australië by ’n franchisehouer gaan inloer het. “Ek wou weet dat as ek my geld daarin belê, moet dit vir ’n nywerheidsproduk wees wat kan perform.”
In 2000 het die Le Rouxs twee masjiene van On-Site uit die VSA ingevoer. Vandag het hulle al vyf masjiene en ’n personeel van sewe.
“Ons het niks van die skoonmaakbedryf geweet nie, maar ons het geglo ons sal dit kan laat werk. Ons moes leer van die verskillende materiale en hoe om dit te behandel, want ons het ’n waarborg gegee dat niks sal krimp nie. Ons het alles eers getoets en die proses gesien as die betaling van ons ‘skoolgeld’ – ’n leerproses,” vertel Piet.
Die eerste twee jaar was moeilik en ’n ekstra inkomste wat Magda deur deeltydse buitewerk gekry het, het hulle veral in die stiller wintermaande deurgedra.
Bemarking was ’n verdere kopseer en aanvanklike probeerslae in die gemeenskapspers en by skole in die omgewing het nie veel vrugte afgewerp nie.
Maar aanhouer wen.
Danksy hul harde werk, goeie produk en aandag aan persoonlike diens, ongeag of dit vir ’n individuele kliënt of ’n groot maatskappy was, het hulle ’n goeie reputasie opgebou.
“Veral vir van die ouer mense is dit ’n hoogtepunt as ons die dag by hulle huise werk kom doen. Dis omdat ons meer doen as net skoonmaak. Iemand soek miskien net ’n glimlag of bietjie aanmoediging,” vertel Magda.
Vandag tel die Protea-hotelgroep, Medi-Clinic en Distell onder hul kliënte. Boonop is hulle gereed om hul onderneming op ’n franchise-model uit te brei.
On-Site Cleaning se derde vennoot, me. Zettie April, het net so ’n interessante storie van hoe sy by die onderneming betrokke geraak het.
Sy kom uit die omgewing van die Noord-Kaapse dorpie Pella en haar ouma het haar grootgemaak.
Haar ouma se leuse was “onthou altyd waar jy vandaan kom en sorg dat jy jou werk beter en beter doen”. Omdat werk maar skaars was, het Zettie in Kaapstad kom werk soek.
Al wat sy kon dink om te doen was om as huishulp werk te probeer kry en sy het haar besonderhede by ’n winkel in Durbanville opgeplak. Dis daar waar Piet dit raakgesien het toe hy en Magda na ’n huishulp op soek was.
Toe die Le Rouxs later hul On-Site Cleaning begin, het Zettie ook betrokke geraak.
Mettertyd het sy die proses net so goed soos die Le Rouxs geken en het die ander werknemers haar kennis en natuurlike leierskap gerespekteer.
In 2005 het die Le Rouxs gevoel die tyd het aangebreek om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in hul onderneming toe te pas.
Dit was vir hulle duidelik Zettie is die aangewese kandidaat. Hulle het haar ’n belang van 30% aangebied.
“Ek het vir myself gesê ek wil werk, ordentlik werk, al was ek net ’n huiswerker. As ek iets doen, wil ek trots wees daarop,” sê sy.
Behalwe dat sy dankbaar is om met haar inkomste uit On-Site Cleaning vir haar oudag voorsiening te kan maak, sorg dit ook vir ’n goeie opvoeding vir haar drie kinders.
Elke twee maande hou On-Site Cleaning se drie vennote amptelik vergadering om oor die stand van die onderneming te gesels en insette te lewer.
“Zettie voeg beslis waarde toe tot die onderneming. Sy ken die werk en gee goeie raad en terugvoer. Sy is beslis nie net ’n vennoot op papier nie. Ons is al drie saam in ’n vertrouensverhouding,” sluit Magda af.
>> Danksy hul harde werk, hul goeie produk en aandag aan persoonlike diens, het hulle ’n goeie reputasie opgebou.