Die akteur Gene Hackman besit ’n stel “Kenimals” uit Suid-Afrika.
Daar is ook van dié oulike sandgevulde diertjies elders in die VSA, Brittanje, Australië en op verskeie plekke in Suid-Afrika.
Al wat nodig was vir dié suksesverhaal, was ’n ware entrepreneur en R30 om ’n onderneming te begin. Kendyl McPherson van Durban is in 2004 – toe sy nog in die hoërskool was – as KTV se entrepreneur van die jaar aangewys met dié innoverende idee.
Verlede jaar was die wenner die Vrystater Heléne Lombaard (toe nege jaar oud) met haar tuisgemaakte Mmmosterd! Sy koop klein glasbottels teen 5c van ma’s in haar omgewing en koop al haar bestanddele van ’n plaaslike supermark. Sy maak self die mosterd met haar geheime resep, maar betaal haar ouers vir elektrisiteitsverbruik. Elke etiket het inpsirerende woorde van Suid-Afrikaanse skrywers soos C.J. Langenhoven daarop. Heléne maak maandeliks wins van meer as R2 000 en kan nie voorbly om die mosterd te voorsien nie.
Dít is die soort suksesverhale wat die KTV-markdag oor die afgelope 13 jaar opgelewer het, sê me. Virginia Cook van die KTV-hoofkantoor.
En daar is baie meer, want die afgelope sowat vyf jaar was daar byna 11 000 kinders tussen die ouderdom van ses en 16 jaar wat in die verskillende streke aan die Markdag deelgeneem het.
Die uitblinkers is kinders wat nie net fokus op ’n spesiale produk vir die Markdag nie, maar ’n mini-onderneming daaruit kan skep wat dwarsdeur die jaar sake doen, aldus Cook.
KTV se Markdag is die eerste keer in 1996 nasionaal en so ver as Namibië aangebied. Sedertdien word gefokus op ses streke wat baie goed vaar en jaarliks baie deelnemers lok.
Dít is Bloemfontein, Johannesburg, Port Elizabeth, Oos-Londen, Durban en Kaapstad. In die meeste van dié streke neem gemiddeld 300 tot 400 kinders elke jaar deel, sê Cook.
Daar is ook elke jaar meer kinders wat deelneem deur produkte by stalletjies te verkoop, of wat aan die talentkompetisie deelneem.
Die talentkompetisie is ’n belangrike deel van Markdag omdat alle kinders nie kan bekostig om self iets te maak of ’n sake-idee het nie, maar baie talent het.
Volgens Cook moet kunstenaars ook weet hoe om hul talente in ’n sakegeleentheid te omskep. “Indien jy daarin belê, sal die beloning groot wees. Programme soos Idols het baie gehelp om kinders die moed te gee om op ’n verhoog op te tree.”
In al die streke word skoolbesoeke gedoen en danksy die steun van entoesiastiese onderwysers wat jong sakebreine help koester, lok die Markdag jaarliks nuwe deelnemers, sê Cook.
’n Pluimpie vir die Markdag is dat baie skole op grond van die sukses daarvan self entrepreneursdae begin aanbied het. Ondanks groot belangstelling onder die kinders, het hulle nie altyd indrukwekkende idees oor wat om te verkoop nie. Gevolglik bied KTV sedert 2004 handwerksessies aan waar kinders meer kan leer oor kersemaak, kralewerk, materiaalverf en gesigverf om ’n paar te noem.
Vanjaar het 411 kinders aan die Markdag in die Oos-Kaap deelgeneem, sê me. Michelle Brown, provinsiale organiseerder.
Vir die tweede jaar agtereenvolgens is Rike-Mari du Preez (12) van die Laerskool Gamtoosvallei as die Oos-Kaapse wenner aangewys. Haar onderneming Spoon Scrapping, het drie vroue in diens op hul plaas in die Patensie-omgewing. Sy versier lepels, teelepels en koekvurkies met vrouegesigte wat deur blinkers, krale en verskillende kleure opgekikker word.
Volgens Brown het Spoon Scrapping meer as R10 000 wins gemaak, al sy produkte is op die Markdag in Port Elizabeth uitverkoop en verskeie bestellings vir Kersgeskenke is ontvang.
Rike-Mari dring saam met die ander streekwenners deur na die eindronde. Die nasionale wenner sal vandag bekend gemaak word in ’n spesiale regstreekse televisie-uitsending.
Emma Sweet van Schoenmakerskop by Port Elizabeth was vanjaar derde. Sy is ’n gereelde deelnemer en het een jaar die kans om ’n sagte spierwit hasie vas te hou, teen R5 ’n keer verkoop. Vanjaar het sy ’n DVD gemaak en bemark waarin sy mense stap-vir-stap leer om Skype te gebruik om met geliefdes oorsee of elders in die land te kommunikeer. Sy en haar ouma Vera, wat in Engeland bly, “Skype” twee keer per week.
Emma het haar pa, John, betaal vir pamflette en ander ontwerpe wat hy vir haar gedoen het, maar het steeds ’n stewige wins in haar sak gesteek. Sy het ook heelwat bestellings gekry en sê wanneer sy groot is, wil sy beslis ’n sakevrou wees.
Ander interessanthede op vanjaar se Markdag in Port Elizabeth was ’n groep ywerige seuns wat gekleurde pannekoeke – blou, pienk en groen – verkoop het, spesiale skryfbehoeftes en kaartjies onder die naam Take Note wat te koop was, ’n stel wat jou wys om jou eie towerkunsies te doen en ’n stel bestaande uit handpoppe en ’n CD met ’n storie opgeneem, wat jou in staat stel om jou eie poppekas-vertoning te hou.
Die land se jong entrepreneurs het duidelik vindingryke idees en danksy die KTV-markdag het hulle jaarliks ’n geleentheid om hul produkte en talente te bemark.
>>
Al wat nodig was vir hierdie suksesverhaal, was ’n ware
entrepreneur asook R30 om ’n onderneming te begin