Die ontwikkelings in die Suid-Afrikaanse politiek laat ’n mens wonder of ons regeringslui enigsins in die wêreld van die entrepreneur sal oorleef.
Sommige politici, soos mnr. Tokyo Sexwale, hét al naam gemaak as entrepreneur, maar wat van die meeste van die ander sal word, weet nugter.
Wanneer ’n mens suksesvolle sake-ondernemers bestudeer, sal jy sien dat die tipiese entrepreneur sekere persoonlikheidstrekke het wat beslis verskil van dié van die deursnee-salaristrekker.
Dit is dié sakepersoon se vermoë om sulke persoonlikheidstrekke voortdurend te ontwikkel, wat sal bepaal hoe suksesvol hulle in die sakewêreld gaan wees of nie.
Politici sal saamstem dat veranderings baie maklik kan gebeur; die afgelope ruk se gebeure is ’n voorbeeld daarvan.
Gewoonlik probeer mense om verandering en onsekerheid te vermy.
Daarenteen sal ’n suksesvolle entrepreneur in elke verandering ’n geleentheid sien; sulke mense het dikwels die vermoë om verandering goed te hanteer en dit lyk soms of hulle daarop floreer.
By die meeste suksesvolle sakeondernemers is daar ook ’n begeerte aanwesig waarvolgens hulle hul eie ding wil doen. Hulle wil graag hul eie baas wees en hou nie daarvan om ander mense ryk te maak of vir hulle te werk nie.
Voorts maak hulle ook geen geheim daarvan dat hulle rebelleer teen gesag nie; die begeerte om ’n “eie” ding te doen word normaalweg gesien as die fondasie waarop al die ander persoonlikheidstrekke gebou word.
Nog ’n eienskap van suksesvolle ondernemers is dat hulle baie energiek is.
Hulle is altyd “besig” en daar word heeltyd gekyk of daar nie iets is wat gedoen kan word nie. Tyd vir stilsit bestaan eenvoudig nie.
Dit gebeur ook dikwels dat sulke mense nie tevrede is om net by één onderneming of projek betrokke te wees nie; hulle het altyd tyd om nóg te doen.
In sake gebeur niks vanself nie. Dit is die ware entrepreneur wat met die nodige kreatiwiteit en inisiatief na vore kom om iets te laat gebeur.
Entrepreneurs droom en praat nie net oor die geleenthede nie – hulle doen iets om dit te benut.
Nog ’n persoonlikheidstrek van suksesvolle sakeondernemers is hul geweldige vasberadenheid en wilskrag om te slaag.
Daar is etlike voorbeelde waar sakeondernemers aanhou probeer het totdat hulle eindelik sukses gesmaak het.
Die ware entrepreneur beskik oor die vermoë om self dinge te laat gebeur. Geen eksterne faktor staan by dié mense in die pad van sukses nie.
’n Laaste eienskap van suksesvolle sakeondernemers wat vermelding verdien, is hul ongelooflike oorredingsvermoë. Hulle moet voortdurend ander mense oortuig om soms aan hulle geld te leen, by hulle te koop, vir hulle te werk of soms aan hulle op voordelige voorwaardes te verkoop.
’n Goeie oorredingsvermoë is dikwels die entrepreneur se belangrikste wapen.
Gemeet aan bogenoemde persoonlikheidstrekke wil dit tog blyk of heelwat verkleurmannetjie-politici in die private sektor sal kan oorleef.
Ons land het vinnig entrepreneurs op alle vlakke nodig. Moet dus nie wag totdat jy aftree nie.
-
Prof. Du Plessis is die direkteur van die Potchefstroomse Besigheidskool (PBS) van die Noordwes Universiteit.