Thomas Edison (1847 – 1931) was ’n uitvinder en innoveerder by uitstek, terwyl W.K. Kellogg (1860 – 1951) toevallig graanvlokkies ontdek het.
Henry Ford (1863 – 1941) het met die beginsel van massaproduksie dit reggekry om ’n luukse produk, soos ’n motorvoertuig, binne die bereik van gewone mense te bring.
Al drie dié entrepreneurs, toevallig tydgenote, het daarin geslaag om die wêreld in só ’n mate te verander dat hul uitvindsels vandag nog die mensdom op die een of ander manier raak.
Edison was oorspronklik ’n telegraaf-operateur, maar in sy leeftyd het hy meer as 1 000 patente geregistreer; juis om vroeë winste daaruit te maak, maar ook om mededingers uit die mark te hou.
Sy filosofie was dat uitvindings belangrik is, maar dat uitvindings alleen nie ’n onderneming suksesvol sal maak nie.
Idees moet omgeskakel word in produkte wat verbruikers na waarde ag.
Kellogg se belangrikste ontdekkings was nie net die metode om droë ontbytgraan te produseer nie, of om die leefwyse van die ganse mensdom te verander met kits-ontbyte nie.
Hy was sedert die 1930’s betrokke by die borg van radio-kinderprogramme om sy handelsmerk wêreldwyd gevestig te kry.
Uit ’n bemarkingsoogpunt het hy gou besef dat kinders ’n belangrike rol in die besluitnemingsproses by aankope speel.
Ofskoon Henry Ford nie die motorvoertuig uitgevind het nie, het hy dit bekostigbaar genoeg gemaak vir die middelklas wat hy help skep het.
Sy produksielyn-tegnologie was uniek in hierdie bedryf en het tot goedkoper motors gelei.
Dan het hy ook nog sy werkers genoeg betaal sodat hulle self hierdie motors kon koop.
In die sakewêreld gebeur iets nie vanself nie. Dit is die ware entrepreneur wat met kreatiwiteit en inisiatief na vore kom om iets te laat gebeur.
Entrepreneurs droom en praat nie net van geleenthede nie, hulle doen iets om dit te benut wanneer dit opduik.
Hulle het die spreekwoordelike “ ’n boer maak ’n plan” behoorlik onder die knie en borrel gewoonlik oor van kreatiewe idees en oplossings.
Nog ’n karaktertrek van suksesvolle entrepreneurs is hul geweldige vasbeslotenheid en wilskrag om te slaag. Daar is etlike voorbeelde waar entrepreneurs aanhou probeer het totdat hulle uiteindelik sukses gesmaak het.
Hierdie karaktertrek gaan ook saam met die volgende een – die entrepreneur se lokus van kontrole, oftewel die vermoë wat hulle het om hul eie heil te bepaal en te bereik.
Die ware entrepreneur beskik oor die vermoë om self dinge te laat gebeur. Geen eksterne faktor sal by sulke mense in die pad van sukses staan nie.
’n Laaste karaktertrek van suksesvolle entrepreneurs wat vermelding verdien, is hul ongelooflike oorredingsvermoë. Hulle moet voortdurend ander mense oortuig om soms aan hulle geld te leen, by hulle te koop, vir hulle te werk en selfs om op voordelige voorwaardes aan hulle te verkoop.
’n Goeie oorredingsvermoë is dikwels die entrepreneur se belangrikste wapen.
Edison, Kellogg en Ford het al hierdie karaktertrekke gehad.
)
Prof. Du Plessis is die direkteur van die Potchefstroomse Besigheid?skool (PBS) van die Noordwes-universiteit.