André Janse van Vuuren,
’n Sterker aanvoeling vir geldmaak-geleenthede, beter opleiding en ’n bereidwilligheid om te kan misluk, tel onder die redes waarom jongmense die sterkste drywers van entrepreneurskap in Suid-Afrika is.
Om dié groep beter te ondersteun, kan dus ’n moontlike uitkoms bied vir die lae entrepreneuriese aktiwiteitsvlakke wat in Suid-Afrika voorkom.
Volgens die jongste globale entrepreneurskap-monitor (GEM) wat gister uitgereik is, is die jeug (onder 34 jaar) die beste daarop ingestel om sake-geleenthede in werkbare ondernemings te omskep.
Dié peiling word deur die Universiteit van Kaapstad se sentrum vir vernuwing en entrepreneurskap by die nagraadse bestuurskool onderneem, en meet wat Suid-Afrika in verhouding met die res van die wêreld doen om entrepreneurskap te bevorder.
In vorige jare het die verslag ’n oorsig gebied van die getal volwasse Suid-Afrikaners wat by entrepreneuriese aktiwiteite betrokke is.
Vanjaar is besluit om vorige jare se data in groter diepte te ontleed, vas te stel wat die sleuteldrywers van entrepreneurskap is, en wat gedoen moet word om entrepreneurskap te ontwikkel.
Verlede jaar het die GEM-verslag getoon dat entrepreneuriese bedrywighede, ten spyte van ’n gunstige ekonomiese klimaat, van 2001 tot 2006 met die helfte afgeneem het.
Slegs 5% van alle Suid-Afrikaanse volwassenes het ’n onderneming besit wat korter as 3,5 jaar bestaan. In 2001 was dit 9,4%.
Dit vergelyk swak met die ander 10 ontwikkelende ekonomieë waar die studie ook uitgevoer is, waar ’n gemiddelde van 14,8% van die volwasse bevolking vroeë-stadium-entrepreneurs is.
Boonop bestaan byna ’n derde (28%) van hierdie entrepreneurs uit individue wat ’n eie onderneming besit omdat hulle geen ander inkomste-opsie het nie.
Volgens dr. Mike Herrington, leier van die GEM-navorsingsgroep, is daar verskeie tendense wat daarop dui dat die jeug kan pa staan vir entrepreneuriese groei.
In die eerste plek is daar meer entrepreneurs onder jongmense wat geleenthede wil benut, teenoor dié wat geen ander opsie het as om ’n onderneming te begin nie.
Voorts is daar ’n toenemende aantal jeugdiges wat hul hoër?skool-opleiding voltooi het. “Dit kan ’n positiewe tendens wees, as hulle die regte vaardighede aangeleer word,” sê Herrington. “Maar die gehalte van onderrig sal goed gemonitor moet word.”
Voorts verhinder ’n vrees vir mislukking al hoe minder jonges om ’n onderneming te begin.
Daarteenoor, sê Herrington, gebruik al hoe minder jeugdiges nuwe tegnologie om ’n onderneming te begin.
“Innovasie is baie belangrik in enige kennis-gedrewe omgewing,” sê hy. “Die jeug het in die drie jaar tot 2006 al hoe minder tegnologie begin gebruik om ’n eie onderneming te begin.”
Volgens die verslag sal ’n staatsfokus op onderrig en opleiding, ’n blootstelling aan verskillende marktoestande, asook ondersteuningsdienste wat die jeug sal bystaan om idees te ontwikkel, die meeste vrugte afwerp.
“ ’n Nasionale ondersteuningstelsel moet ontwikkel word, wat die spesifieke hindernisse waarvoor jeug-entrepreneurs te staan kom, uit die weg help ruim.”