Met ’n paar eenvoudige riglyne in plek, kan kleinhandelaars hulself groot verliese aan diefstal en bedrog spaar.
Met die Kerstyd op hande word die toeloop van klante by kleinhandelaars al hoe groter.
Tussen die opgewonde verbruikers is daar egter ook diewe en bedrieërs wat sal probeer om met soveel moontlik handelsware weg te loop sonder om daarvoor te betaal.
Die belangrikste reël hieroor, wat meermale nie toegepas word nie, is om alle gevalle van winkeldiefstal by die polisie aan te meld.
Handelaars moet met praktiese stappe probeer om diefstal so moeilik moontlik vir die voorgenome dief te maak.
Om mense dop te hou kan byvoorbeeld vergemaklik of bemoeilik word deur die hoogte van winkelrakke en die spasie wat tussen-in toegelaat word.
Waardevolle produkte kan ook liewers nader aan die kasregisters, moontlik in glaskaste, ten toon gestel word.
Sorg ook dat die onderneming se personeel, veral oor die feestyd, hul fisieke teenwoordigheid oral in die onderneming laat geld.
Korporatiewe kleredrag kan van groot waarde wees, omdat klante sowel as voornemende diewe hulle maklik eien.
Winkeldiefstal se tweelingbroer is inbraak.
Diewe is daar deeglik bewus van dat ondernemings veel meer voorraad in die Kerstyd aanhou en daarom moet heelwat meer aandag aan die sekuriteit van die onderneming as in ander tye gegee word.
Aspekte van beveiliging wat jaarliks nagegaan behoort te word, is deurslotte, diefwering, die sluit van valluike in die plafon, die daaglikse hantering en berging van kontant en die algemene huishouding van die perseel (soos lere of dromme wat buite die onderneming rondstaan).
’n Sekuriteitstelsel wat aan ’n betroubare reaksie-eenheid gekoppel is, is lankal nie meer ’n luukse nie – dit is ’n noodsaaklikheid.
Handelaars moet onthou dat personeel makliker toegang tot die perseel het en daarom moet die monitering van personeel se kom-en-gaan (veral tydelike personeel) nie oor die Kerstyd afgeskeep word nie.
Ook die hantering van kontant oor die feestyd is ’n aspek wat spesiale aandag moet geniet. Vermy enige roetine wat betref die hantering en deponering van kontant by die bank.
Voornemende rowers hou dikwels die bewegings van personeel dop wat tussen die perseel en bank beweeg.
Maak van meer as een personeellid gebruik om die geld te gaan bank.
Waar groot hoeveelhede kontant vervoer word, moet liefs van ’n sekuriteit-onderneming gebruik gemaak word.
Gee ook aandag aan tjek- en kredietkaartbedrog.
Wanneer ’n tjek geteken word, vra vir die klant se kredietkaart, sodat die handtekening agter op die kaart met dié op die tjek vergelyk kan word.
Kontroleer die vervaldatum op die kaart, vergelyk die handtekening op die kaart met dié op die strokie, vra vir bykomende bewyse van identifikasie, vergelyk dit met ’n lys van gesteelde kaarte en as jy steeds onseker is, bel die bank om magtiging te kry.
)
Prof. Du Plessis is die direkteur van die Potchefstroomse Besigheidskool (PBS) van die Noordwes-Universiteit.