Daar is sowat 5,5 miljoen geregistreerde voertuie in Suid-Afrika.
Die totale aantal kilometers wat jaarliks afgelê word op Suid-Afrikaanse paaie, is sowat 98 000 miljoen. Die gemiddelde brandstofverkope in Suid-Afrika is sowat 9 500 megaliter per jaar, volgens ’n verslag van die departement van vervoer. Een megaliter is 1 miljoen liter.
Teen vandag se prys van omtrent R10,70 per liter petrol beloop Suid-Afrika se totale brandstofkoste dus R101 miljard per jaar.
Padvervoer op Gauteng se hoofroetes neem teen tussen 5% en 7% per jaar toe wat toenemend verkeersprobleme veroorsaak.
Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) is die verkeersprobleme in Gauteng so erg dat dit ’n nadelige impak op die lewenstandaard van mense in Gauteng het.
Sanral is verantwoordelik vir die ontwikkeling, instandhouding en bestuur van 16 150 km paaie in Suid-Afrika, waarvan 2 400 km tolpaaie is.
Sanral het nou ’n projek, die Gauteng hoofweg-verbeteringsplan (GFIP), ontwikkel saam met sy vennote, die metropolitaanse munisipaliteite in Pretoria, Johannesburg en Ekhurhuleni en die Gautengse provinsiale regering.
Deur die projek sal Sanral 561 km paaie opgradeer of ontwikkel rondom die drie metro’s wat dan ’n veilige en betroubare padnetwerk sal voorsien. Dié netwerk sal die optimalisering van die beweging van vrag- en openbare vervoer in die provinsie verseker.
Dié doelwitte sal bereik word deur die ontwikkeling van ’n netwerk van binne- en buiteringpaaie en sal ook die direkte verbindings met histories agtergeblewe gebiede soos Soweto insluit.
Die projek sal in fases geskied en die eerste fase sal omgewingsimpakstudies insluit.
Tolgeld
Die GFIP sal sowat R20 miljard kos. Weens die druk van finansiële verpligtinge vir behuising, onderwys, gesondheid en ander verpligtinge op die staat sal Sanral finansiering vir die GFIP uit ander bronne moet kry.
’n Tolstelsel sal die identifisering van moontlike beleggers makliker maak. Beleggers sal verseker wees van ’n opbrengs op hul beleggings en die regering sal nie na die nasionale fiskus hoef te gaan om die R20 miljard te kry nie. Die projek sal gevolglik deur die “verbruiker betaal”-beginsel gefinansier word.
Die tolstelsel wat beplan word, sal elektronies wees, wat sal verseker dat verkeer nie ontwrig sal word deur tolhekke nie. Die paaie sal eers ná 2010 tolpaaie word deur 76 geriewe wat elke 11 km op die bestaande paaie aangebring sal word.
Ekonomiese impak
Daar word verwag dat bydraes deur die GFIP tot die nasionale bruto binnelandse produk (BBP) in sowat R14,2 miljard in 2008 en R15,3 miljard in 2009 sal wees. Die voordeel vir die BBP in Gauteng alleen vir dieselfde jare word op tussen R6,3 miljard en R6,7 miljard geskat.
Met die ontwikkeling van die GFIP sal 30 000 addisionele werkgeleenthede geskep word en 138 900 indirekte werkgeleenthede.
Volgens Sanral sal die projek in sy geheel voltooi wees teen 2014, maar die belangrikste segmente sal teen 2010, betyds vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi, voltooi wees.