Die padwerkprojekte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se Gauteng-hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) sal teen Mei 2010 grotendeels voltooi wees. As die projek agter raak en nie teen dié datum voltooi is nie, sal konstruksie aan die projek vir drie maande gestaak word, terwyl die betrokke paaie in Gauteng in bruikbare toestand vir die duur van die Wêreldbeker-sokkertoernooi 2010 gebring sal word.
Die eerste fase van die GFIP gaan sowat R11,5 miljard kos.
Suid-Afrika sal in die toekoms moet kyk na alternatiewe vervoeropsies.
Nuwe paaie sal nie veel langer in die toekoms verkeersdruk kan verlig nie. Die hoofrede is dat daar eenvoudig net nie meer plek in Gauteng is om nuwe paaie te bou nie.
Dit raak dus al hoe belangriker om na ander vervoeropsies te kyk. Hierdie opsies sal dan ontwikkel moet word vir bystand tot die land se padnetwerk.
Die grootste en bekendste inisiatief is die Gautrein-projek wat sal meebring dat reisigers per trein tussen Pretoria en Johannesburg kan pendel.
Die Gautrein sal deur die padnetwerk aangevul word.
’n Tweede strategie wat in Gauteng ontwikkel word, is die Bus Rapid Transit (BRT) -stelsel.
Die BRT word deur die verskeie metropolitaanse munisipaliteite ontwikkel en sal ’n openbare-vervoerstelsel met ’n hoë standaard vir die publiek beskikbaar stel.
Die instelling van hoëdigtheidsbane op Gautengse snelweë, met die idee dat twee bane vir voertuie met twee of meer insittendes beskikbaar gestel sal word, word ook ondersoek. Die vorme van alternatiewe vervoer sal by die GFIP geïnkorporeer word, saam met die bus- en treindienste, terwyl taxi- en treindienste ten nouste gekoppel sal word.
Die minister van vervoer, mnr. Jeff Radebe, het by die sooispit-geleentheid van die GFIP gesê die ontwikkeling van die land se paaie speel ’n belangrike rol om die ekonomie toe te laat om te groei sonder die las van onnodig erge verkeersprobleme.
“Die are van ons padstelsel moet oop gehou word vir Suid-Afrika se ekonomie om te groei,” het Radebe gesê.