Suid-Afrika is 51ste uit 127 lande op ’n ranglys waarvolgens ’n land se gereedheid om ekonomiese en maatskaplike voordeel te trek uit inligting- en kommunikasietegnologie (IKT), gemeet word.
Luidens ’n verslag van die Wêreld- Ekonomiese Forum in samewerking met Cisco Systems bied ’n land se koppeling met die internet ekonomiese voordele soos laer transaksiekoste en ’n betroubare vloei van inligting, asook maatskaplike voordele soos toegang tot onderwys en die verskaffing van staatsdienste.
Suid-Afrika val in die top-40% van lande wat die potensiaal van IKT kan ontsluit. Net Suid-Afrika en Mauritius (54ste) uit die lande in Afrika suid van die Sahara het die boonste helfte van dié lys gehaal. Suid-Afrika het egter vanjaar met twee posisies gedaal teenoor verlede jaar se ranglys.
Denemarke, Swede en Switserland is onderskeidelik eerste, tweede en derde op dié lys. Die VSA is vierde en Singapoer vyfde.
Luidens die verslag het Suid-Afrika ’n beter “ekostelsel-dimensie” as ’n “infrastruktuur-dimensie”. Dié dimensies bepaal hoe gereed die land is om baat te vind by IKT-ontwikkeling.
Suid-Afrika se “ekostelsel-dimensie” word gedryf deur die land se sake- en regulatoriese omgewing. Dié dimensie presteer egter nie omdat daar ’n gebrek aan mededinging in baie IKT-markte in Suid-Afrika is, lui die verslag. Mededinging is een van die vernaamste faktore wat breëbandpenetrasie en -koste bepaal.
Suid-Afrika se “infrastruktuur-dimensie” het matig gevaar. Dit word beperk deur kragtekorte, klein internet-bandwydte en vaardigheidstekorte (soos die gebrek aan wetenskaplikes en ingenieurs in die bedryf).
Van al die middel- en lae-inkomste- lande, soos deur die Wêreldbank gedefinieer, lê Suid-Afrika in die top-25% wat betref grootte van bruto binnelandse produk en die penetrasie van selfone, die internet en rekenaars. Dit lê egter verder af op die lys vir breëbandpenetrasie.
Die implikasies hiervan is dat Suid-Afrika gerat is om voordeel uit IKT te trek omdat sy sake- en regulatoriese omgewing ’n goeie grondslag daarstel, maar dat internetgebruik en die koste daarvan uitdagings bied.