Die bekendstelling van ’n nuwe toepassing op Microsoft Word gaan die wêreld vir blindes “revolusionêr” verander.
Dié toepassing heet Save as Daisy en bemagtig blindes en mense met gesig- of leesgestremdhede, soos disleksie, om Microsoft Word-tekslêers te stoor in die Daisy-standaard.
Daisy is ’n akroniem vir Digital Accessible Information Systems. Dié standaard bestaan al geruime tyd.
Dit is ontwikkel om toeganklike multimedia vir blindes en mense met swak sig te skep vanaf teksformate. Histories gebruik mense met dié gestremdhede tegnologie soos skermvergroters, vergrote skrif en teks-tot-stem-tegnologie.
Die doel van die konsortium in beheer van Daisy is juis om die oorskakeling van analoog- na digitale tegnologie in te span om te verseker dat alle gepubliseerde inligting in ’n gestandaardiseerde formaat beskikbaar is vir mense wat dit nie kan lees nie.
Nou het ook Microsoft die Daisy-standaard ingestel sodat inligting wat binne dié programmatuur geskep is, toeganklik is deur onder meer die teks visueel te vergroot of om dit in klank om te skakel.
“Ons weet dat 70% van alle inligting in Microsoft Word geskep word,” sê mnr. Hiroshi Kawamura, hoof van die Daisy-konsortium. Daarom het dit sin dat die Daisy-standaard na Word uitbrei, sê hy.
Volgens ’n Microsoft-verklaring skat organisasies soos die Wêreld-gesondheidsorganisasie en die wêreldvereniging vir blindes daar is meer as 160 miljoen mense wat óf blind is óf wesenlik verswakte sig het. Dié getal sluit nie die miljoene in met fisieke, ontwikkelings- of leergestremdhede wat ook by die Daisy-toepassing kan baat vind nie.
Die Daisy-konsortium het verlede week in Johannesburg gestremde Suid-Afrikaners opgelei om dié standaard op Microsoft-programmatuur toe te pas.
Volgens me. Sharon Gerkin, verteenwoordiger van Disleksie Suid-Afrika wat die opleidingsessies bygewoon het, is die Save as Daisy-toepassing “revolusionêr”.
Gerkin meen veral skoolgaande kinders kan baie by dié toepassing baat vind omdat skoolboeke en eksamens nou vir hulle op Word gestoor kan word. Boonop kan dit aangepas word sonder groot inspanning en is die navigasie daarvan baie eenvoudig.
“Dit maak ’n hele wêreld vir hulle oop,” het sy gesê.
Die Save as Daisy-toepassing kan gratis van www.openxmlcommunity.org/daisy gelaai word.