Suid-Afrikaners glo die vaardigheidstekort in die IT-bedryf is weens die emigrasie van jong kundiges, volgens Dimension Data (Didata).
Dié IT-dienstemaatskappy sê emigrasie speel wel ’n rol, maar die werklike rede vir die vaardigheidsgaping is die aggressiewe groei in nuwe tegnologie.
Volgens mnr. Brent Flint, hoofbestuurder van dienste by Didata in die Midde-Ooste en Afrika, raak die IT-omgewing meer kompleks met die aanvaarding van nuwe soorte tegnologieë, soos onder meer die wye aanvaarding van stem-oor-internet-protokol.
“Dit is nie net ’n Suid-Afrikaanse fenomeen nie omdat die vraag na gevorderde tegnologie-vaardighede vinnig regoor die wêreld toeneem,” het hy volgens ’n persverklaring gesê.
Me. Kellie Reeves, bestuurder van mensehulpbronne van Didata in Australië, het kort ná haar aanstelling gesê die vaardigheidstekort is ’n “reuse-kwessie” in die bedryf namate die IT-bedryf in daardie land groei.
Didata sê boonop is die werwing van jong kundiges in Suid-Afrika ’n uitdaging vir baie IT-organisasies omdat daar net ’n klein poel gegradueerdes in die plaaslike mark is.
“Verdere druk kom daarvan dat tersiêre onderriginstansies nie ’n voldoende aanbod van IT-vaardighede aanbied om aan die groeiende vraag te voldoen nie,” het hy gesê.
Baie ondernemings belê in vaardighede of leerlingskap-programme om die probleem te takel.
Volgens Isett, die seta verantwoordelik vir die IT-bedryf, sal die vraag na IT-vaardighede teen 2009 die aanbod met 24% oorskry.
Volgens Didata is hoë salarisse nie alles vir dié skaars kundiges nie. Hy sê die grootste motivering vir top-kundiges is om blootstelling aan reuse-projekte en nuwe tegnologie te kry.