Riana de Lange
Port Elizabeth.– Die hoeveelheid tegniese inligting in die wêreld verdubbel elke twee jaar, maar teen 2010 sal dié inligting na raming elke 72 uur verdubbel.
Met nuwe veseltegnologie word soveel inligting per sekond oorgedra wat gelykstaande is aan die inligting op 1 900 CD’s per sekonde of 150 miljoen gelyktydige telefoonoproepe per sekonde.
En hoe klink dié: die spoed verdriedubbel elke 6 sekondes.
Dí?t is die impak van tegnologie op die wêreld en waarby Suid-Afrikaners hul denke moet aanpas, het mnr. Thierry Boulanger, hoofbestuurder van Hewlett-Packard Suid-Afrika (HP) se beeld en drukwerk-groep, op ’n beraad oor inligtingskommunikasietegnologie (IKT) gesê.
Daar is gemiddeld 540 000 woorde in die Engelse woordeboek, wat vyf maal meer is as in Shakespeare se dae. Baie van dié nuwe woorde kom uit die IKT-sektor, het hy gesê.
Die vraag is of Suid-Afrika sy kinders voorberei op die IKT-wêreld. Het hulle die nodige IKT-vaardighede?
Die belegging in menskapitaal in die wêreld is groot. In 2006 het die VSA 1,3 miljoen gegradueerdes gelewer, Indië 3,1 miljoen en China 3,3 miljoen.
Die sosiale webwerf MySpace kry daagliks 230 000 nuwe gebruikers by en in 2006 was daar in een maand meer as 2,7 miljard soektogte via die Google-soekenjin.
Die uitdaging vandag is dat 2 miljard kinders in die ontwikkelende wêreld bly en 1 uit elke 3 van hulle sal nooit gr. 5 voltooi nie.
Dink aan die moontlikhede en verantwoordelikhede om dié kinders toegang te gee tot skootrekenaars en die internet sodat hulle toegang kan hê tot die magdom inligting beskikbaar, het Boulanger gesê.
HP steun Nepad se veldtog om teen 2015 rekenaars en internettoegang aan 600 000 skole in Afrika te verseker. Dié veldtog het al afgeskop in onder meer Mpumalanga, Egipte, Mosambiek, Nigerië en Uganda.
Met die nodige kopskuif kan die regering inligtingstegnologie doeltreffender gebruik om mense op te hef en dienslewering te verbeter. In dié strategie is bekostigbaarheid, beskikbaarheid en toeganklikheid van tegnologie die sleutel-elemente.
Tegnologie wat vir die ontluikende markte ontwerp word, moet laekoste, energiedoeltreffende produkte wees wat raakvlakke het met minder geletterde verbruikers.
Suksesvolle voorbeelde waar tegnologie in Suid-Afrika ingespan is om prosesse te verbeter, is die SA Inkomstediens se e-filing en ’n stelsel van die departement van binnelandse sake waar mense hul ID-nommers aanlyn kan nagaan, het Boulanger gesê.
Die sukses van tegnologie om die samelewing op te hef, begin ook by ’n groter fokus op IT-opleiding op sekondêre en tersiêre vlak en dié uitbreiding van vaardighede in die velde van ingenieurswese en stelselontleders.