Maarten Mittner
Die aanvangkommissie wat finansiële adviseurs in die eerste twee jaar van ’n polis of finansiële produk ontvang, gaan drasties afgeskaal word.
Die nasionale tesourie sê in voorstelle wat gister uitgereik is ’n maksimum kommissiekoers van 5% van die premie van ’n uitkeerpolis of aftree-annuïteit sal voortaan geld waarvan net die helfte (2,5%) as aanvangkommissie betaalbaar is. Die res kan dan as ’n deurlopende heffing betaal word.
Dit beteken dat R5 betaalbaar is op ’n premie van R100, waarvan R2,50 ’n aanvangsheffing is.
Dit is ’n reuse-verandering van die praktyk wat tot onlangs gevolg is waar alle kommissie in die eerste en tweede jaar van die lewensduur van die polis geld en aanvangkommissie soms 75% van die waarde van die polis oor die twee jaar behels. Dit het beteken dat die waarde van ’n R100-polis in die eerste twee jaar net R25 vir die kliënt was.
Die tesourie sê in sy voorgestelde regulasies vir die lewensbedryf dié praktyk het tussengangers ontmoedig om deurlopend advies aan kliënte te lewer. Dit het onnodige wisselinge in finansiële produkte aangemoedig sodat meer kommissie verdien kon word.
Verdere maatreëls wat aangekondig is om dié wisselinge te voorkom, sluit in ’n verhoging van die tydperk waartydens kommissie terugbetaal kan word van twee jaar tot vyf jaar. Dit het as doel om wanverkope of verkope van produkte aan mense wat nie daardeur bevoordeel word nie, te ontmoedig.
Dit beteken dat wanneer ’n polis binne vyf jaar beëindig word, die kliënt die volle kommissiebedrag van die adviseur kan terugeis.
Polishouers kan ook voortaan kommissiebetalings aan ander tussengangers oordra indien hulle ontevrede is met die advies wat ontvang word.
’n Ope vraag in die bedryf was tot dusver die kwessie van hernieude kommissiebetalings op produkte wat verander is in terme van die verklaring van voorneme wat in Desember 2005 tussen die bedryf en mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, aangegaan is. Hiervolgens het die bedryf onderneem om die swak afkoopwaardes van produkte te verbeter.
As ’n uitvloeisel hiervan is bestaande produkte deur tussengangers na nuwes omgeskakel waarop opnuut kommissie verdien is. Die nasionale tesourie het nou opheldering verskaf deur ’n totale verbod te plaas op die aanvangskommissie indien ’n polis onder die omstandighede verander word.
Die minimum heffing op die vroeëre beëindiging van ’n polis word tot 15% van die beleggingswaarde verminder en tot 0% halfpad deur die lewensduur van die polis. Heffings vir die vroeëre beëindiging van ’n polis moet duidelik aan die kliënt uitgestippel word.
Mnr. Gerhard Joubert, uitvoerende hoof van die Vereniging van Lewensversekeraars (LOA), het die regulasies verwelkom. “Ons meen die nuwe kommissiemodel is billik vir tussengangers.”
Volgens Joubert is dit nou verpligtend dat die persentasieheffing op ’n polis wat vroeër beëindig word, elke jaar stelselmatig sal moet afneem tot waar geen heffing meer betaalbaar is nie. Vir ’n tydperk langer as 10 jaar is geen heffing betaalbaar by vroeë beëindiging nie.
Die nuwe voorstelle kom nie as ’n verrassing vir die bedryf nie. Verskeie veranderings is die laaste aantal jare deur die lewensgroepe in hul adviesstrukture aangebring. Ou Mutual het baie geld bestee aan ’n eie struktuur van finansiële adviseurs wat in diens van die maatskappy is en wat hoofsaaklik Ou Mutual-produkte verkoop.
Deur so ’n struktuur kan deurlopende advies meer prakties gegee word, iets wat die nasionale tesourie voorstaan om die hoë vlak van polisafkope te verhinder. Gemiddelde polistermyne is ook verkort van die 10 of 20 jaar van die verlede tot selfs net vyf jaar.
Vir onafhanklike adviseurs neem die druk toe om meer deurlopende advies te verskaf sonder die voordele van aanvangskommissie. Baie beding hul eie deurlopende kommissiestrukture met die kliënt. Die jongste regulasies is vir kommentaar aan die bedryf voorgelê. Die oogmerk is om dit reeds op 1 Augustus in die bepalings van die Wet op Langtermynversekering.