Aandele in suikermaatskappye kan oor tyd lonend wees, maar wisselvalligheid kan intree. Vir dié met ’n langertermyn-perspektief, kan die beloning soet wees.
Tongaat Hulett en Illovo is die twee aandele wat beleggers toegang tot die suikermark bied. Illovo word die beste aangeslaan teen ’n prys-verdienste-verhouding (p/v) van 15,7 en ’n markwaarde van R10 miljard. Dié aandeel het die afgelope jaar 30% beter as die JSE se indeks van alle aandele gepresteer.
Sy aandeelprys het in die laaste jaar ’n hoogtepunt van R31,15 aangeteken, maar neig sedertdien laer. Voor 2005 het die aandeel teen sowat R8 verhandel.
Tongaat Hulett verhandel teen ’n p/v van net 2,6 en ’n markwaarde van R8,6 miljard. Sy aandeelprys het op 25 Junie verlede jaar ’n hoogtepunt van R110 aangeteken, maar het in Februarie tot R72 gedaal. Sedertdien het die aandeelprys weer tot bo R80 gestyg.
Sommige aandeelbeleggers is skugter vir Tongaat nadat sy aandeelprys in 1998 by tye teen R65 verhandel het, maar daarna tot 2006 grootliks onder druk was en tussen R25 en R55 beweeg het.
Credit Suisse Standard Sekuriteite sê in ’n navorsingsverslag onder die suikeraandele verkies hy Illovo. ’n Teikenprys van R88 geld Tongaat, maar hulle is minder entoesiasties oor Tongaat se konglomeraateienskappe. Die voorkeur is gegrond op die grondslag dat Illovo ’n suiwerder suikerspeler is.
Tongaat se verdienste word hoofsaaklik gedryf deur sy ontwikkelingsfiliaal. Tog kan die suikerfiliaal vanjaar meer tot sy reg kom. Totale suikerproduksie by Tongaat was in 2006 teen 1 067 miljoen ton 8% laer as die 1 160 ton in 2005. Suid-Afrika het produksie van 660 000 ton opgelewer met Swaziland se bydrae op 55 000 ton. Groot hoop word gekoester vir die belange in Zimbabwe en Mosambiek.
Die waarde van Tongaat se Triangle-belang in Zimbabwe word op R1,4 miljard geraam, maar politieke en ekonomiese onsekerheid in die land kan ’n stok in die speke plaas. Die produksie in Mosambiek by Xinavane en Mafambisse het te doen met infrastruktuurprobleme. Xinavane het in 2006 65 000 ton geproduseer en Mafambisse 41 000 ton.
Beleggers moet teen dié agtergrond ’n besluit neem. Onthou, die suikerbedryf kan taai wees!