Jaco Visser,
Grindrod Bank het gedurende die week ’n fonds van stapel gestuur wat slegs in voorkeuraandele belê.
Die teikenaandele van die fonds is hoofsaaklik banke wat voorkeuraandele uitreik ten einde aan hul kapitaalvereistes te voldoen. Die fonds tree egter toe tot ’n baie illikiede mark.
“Likiditeit is ’n probleem,” sê mnr. Gareth Stobie, fondsbestuurder. “Die daaglikse gemiddelde omset op die banke se voorkeuraandele sedert die begin van die jaar was R18 miljoen. Voorkeuraandele van maatskappye in ander sektore is nog meer illikied.”
Volgens hom is daar geleenthede in die illikiditeit van dié mark. “Portefeuljebestuurders kan voordeel trek uit dié ondoeltreffendheid van die mark. Die illikiditeit plaas afwaartse druk op pryse.”
Stobie sê die fonds is gemik op individue met hoë batewaardes en die kostestruktuur van die fonds weerspieël dit. “Die aanvangskoste vir die fonds is 0,25% vir beleggings minder as R1 miljoen en niks vir beleggings van meer as R1 miljoen nie.” Volgens hom sal dié fonds aanloklik wees vir individue en familietrusts in die hoë belastingkerwe.
Die fondsbestuurders voorsien dat die fonds ’n dividendopbrengs van 12,4% ná belasting behoort te hê. “Die opbrengs op voorkeuraandele word almal teen ’n presentasie van die prima uitleenkoers gekwoteer,” sê Stobie. “Die gemiddelde opbrengskoers van die aandele is 83% van prima.”
Hy sê die feit dat die opbrengskoers aan die prima uitleenkoers gekoppel is, bied inflasie-verskansing vir beleggers. “Dié uitleenkoers is geneig om die inflasiekoers te volg.”
Oor die groot blootstelling aan finansiële voorkeuraandele is hy nie bekommerd nie. “Ons is doelbewus oorgewig in bankaandele.”