Die afgelope paar dae se skerp stygings in aandeelpryse op die JSE kon as normaal beskou word. Beermarkte het al in die verlede sulke kortstondige oplewings ervaar.
Maar iets anders het die afgelope week gebeur.
Wanneer die verhandelingsvolumes op die JSE nuwe rekords aanteken, moet daar ’n rede wees. Die rand het onverwags versterk; nogtans het selfs randverskansers se pryse geklim.
Ook ander redes word gegee vir die afgelope week se stygings, soos die daling in die olieprys en die feit dat Suid-Afrika se inflasiekoers tot meer as twee persentasiepunte laer kan wees as wat Statistieke SA (SSA) aangee. Sommige ekonome is egter skepties hieroor.
Die herrie hieroor het ontstaan nadat Investec ’n ontleding gedoen het wat wys dat indien ’n nuwe inflasiemandjie met ander gewigstoekennings sou geld, die werklike inflasiekoers laer as die amptelike syfer sou wees.
Mnr. David Shapiro, konsultant van Sasfin Frankel Pollak Securities en ’n radio- en TV-persoonlikheid, het Donderdagaand gesê daar moet ’n ander rede wees vir die JSE se volumestygings as laer oliepryse en die moontlikheid dat rentekoerse in toom gehou gaan word.
Wat kan die onsigbare faktore wees? Hier is ’n paar moontlikhede:
) Die afgelope week was daar wêreldwyd meer bedrywighede op aandelebeurse, met die Dow Jones van die New Yorkse beurs op die voorpunt.
Een moontlikheid is dat internasionale waardefondse wat na goeie geleenthede op beermarkte soek, die afgelope paar dae ingeklim het.
Maar net dít kon nie oorsee en plaaslik vir sulke groot verhandelingsvolumes verantwoordelik gewees het nie.
Oorsee is daar talle voorbeelde van bekende groepe wat oorgeneem gaan word. Gannett, eienaar van die Amerikaanse koerant USA Today, sukkel. Dié eertydse media-heiligdom in die VSA se aandeelprys en winste val.
Die gesaghebbende Wall Street Journal se aanlyn-koerant het onlangs oor ’n oorname van Gannett bespiegel.
Een siniese Gannett-aandeelhouer het in sy kommentaar op die bespiegelings geskryf die vraag is net wie so ’n sukkelende onderneming sal wil oorneem.
In Londen is daar byna daagliks sprake van oornames en strategiese beleggings.
) Met die rand wat die afgelope week versterk het, kan dit wees dat groot Suid-Afrikaanse groepe wat internasionale strategiese beleggings geïdentifiseer het, besluit het om nou in te klim om hul ding te doen.
Oornames en samesmeltings kom veral voor in ’n beermark, wanneer pryse laag is. Vir ’n Suid-Afrikaanse groep moet dit nou ’n ideale geleentheid wees, want ’n sterk rand sal oornames in die buiteland goedkoper maak. Boonop sit groot groepe soos Anglo American met hope kontant.
) Vir sommige groot internasionale reuse is dit kleingeld om wesenlike belange in ander groot groepe in Suid-Afrika te kry. Met die sterk rand tel die wisselkoers teen hulle, maar hulle beleggings in Suid-Afrika sou betreklik klein wees en hulle (die internasionale reuse) sou voorheen min aandag hieraan gee.
Telkom en MTN is deesdae dikwels in die nuus en dit gaan oor moontlike oornames en samesmeltings waarby buitelandse groepe betrokke kan wees.
Die Chinese bankreus ICBC het verlede jaar ’n belang van 20% in Standard Bank vir byna R37 milard gekry.
Met markkapitalisasie gemeet, is ICBC die grootste bankgroep ter wêreld.
Groot geld wag nie vir bulmarkte wanneer hulle strategies wil oorneem nie.
Meyer is ’n vryskutjoernalis. Sy webtuiste is www.flipmeyer.com