Nellie Brand,
Geen hulpbron-effektetrust het in die maand tot einde Junie onder die top-10 effektetrusts geëindig nie. Daarteenoor was daar in die vorige maand ses onder die top-presteerders.
Volgens die jongste maandelikse inligting van die navorsingsgroep Morningstar oor die prestasie van effektetrusts is die top-10 presteerders almal internasionale portefeuljes wat op buitelandse effektetrusts, buitelandse geldmarkte of vaste inkomste fokus.
Die top-presteerder was Stanlib se Euro Currency Fund of Funds, wat in die maand ’n opbrengs van 5,27% gelewer het.
Die top-10 was die vorige maand almal onder die swakker presteerders.
Onder vandeesmaand se 25 swakste presteerders is die meeste in finansiële, eiendoms- en kleiner maatskappye belê. Dit is dieselfde oor die tydperke drie en ses maande asook oor die jaar tot einde Junie.
Oor die drie maande tot einde Junie is daar egter nog sewe hulpbronfondse onder die top-10 – dieselfde fondse wat die vorige maand oor dieselfde tydperk ook onder die beste presteerders geëindig het. Die top-presteerder oor dié tydperk was weer RMB Resources, wat ’n opbrengs van byna 13% gelewer het – ’n effense verlangsaming.
Dié effektetrust is ook onder die top-tien oor die ses maande tot einde Junie en het van die vyfde na die derde plek opgeskuif met ’n opbrengs van 32%.
Dieselfde sewe hulpbron-fondse wat oor die drie maande onder die top-10 geëindig het, is ook onder die top-10 oor die ses maande. Dit sluit in Investec Commodity, wat weer tweede is, en Old Mutual Mining & Resources, wat van die eerste na vierde plek geskuif het.
Die top-presteerder oor die sesmaandetydperk is Coris Capital International Bond, wat as ’n buitelandse en vaste-inkomstefonds geklassifiseer is, met ’n opbrengs van byna 35%.
Stanlib se Euro Currency Fund of Funds is oor dié tydperk agtste, met ’n opbrengs van byna 26%.
Oor die jaar tot einde Junie is die top-presteerder Old Mutual Mining & Resources, met ’n opbrengs van 55%.
Coris Capital het van die negende tot die derde plek opgeskuif met ’n opbrengs van 46%. Die ander is die hulpbronfondse van Stanlib; RAB; Future?growth; Metropolitan en Nedgroup Investments. Coronation Resources sluit hom by hulle aan.
Oor die driejaartydperk tot einde Junie was Investec Commodity bo-aan die top-10 met ’n opbrengs van 291%. Die naasbeste is Stanlib, gevolg deur Ou Mutual. Al die genoemde hulpbronfondse was ook in Mei onder die top-presteerders.
Investec Commodity is met ’n opbrengs van 541% ook eerste oor die vyfjaartydperk tot einde Junie – soos in die vorige maand. Dit word deur Ou Mutual en Coronation gevolg – ook onveranderd van Mei.
Vier effektetrusts wat fokus op kleiner maatskappye, soos Sanlam Small Cap, is laer geskuif deur hulpbronfondse, maar steeds onder die top-10. Oor die drie- en vyfjaartydperk is die swakste presteerders meestal vaste-inkomstefondse.