Liana Mocke
Baie verbruikers verkeer onder die wanindruk dat jy van jou skuld ontslae is ná vyf jaar verstryk het nadat jou slegte skuldgewoontes jou op ’n swartlys van ’n kredietburo laat verskyn het.
Dit is ongelukkig nie so maklik nie. Hoewel jou naam dan nie meer op die lys pryk nie, beteken dit geensins dat jy ongeskonde daaruit tree nie. Jy is steeds verantwoordelik vir daardie skuld, wat boonop met rente groei!
Een so ’n voorbeeld is van Verbruiker X, wat sewe jaar gelede gelys is nadat ’n kredietgewer ’n hofuitspraak teen haar gekry het.
Verlede jaar het sy besluit om ’n skoon blaadjie om te slaan en haar begroting in orde te kry, haar finansies beter te bestuur, te spaar en deeglike beplanning te doen voor sy weer skuld aangaan.
Teen verlede jaar het daar dan ook reeds meer as vyf jaar verstryk sedert sy gelys is en is haar slegte skuld van haar rekord by die kredietburo afgehaal. Sy het egter nooit in die tyd met die kredietgewer ooreengekom om die skuld af te betaal nie.
Tot haar groot verbasing en skok ontvang Verbruiker X ’n oproep van ’n prokureur. Die prokureur het opgetree vir die kredietgewer aan wie sy geld geskuld het vir haar verband. Sy het gedink haar skuld word ook afgeskryf sodra sy nie meer op die swartlys is nie. Dus skuld sy die kredietgewer nie meer geld nie.
Ongelukkig deel baie verbruikers hierdie persepsie en daarom sê die ombudsman vir kredietinligting, mnr. Manie van Schalkwyk, is dit nodig dat verbruikers verstaan wat gebeur met hul skuld wanneer hulle op die swartlys verskyn en na vyf jaar daarvan afgehaal word.
“Ons weet almal dat ’n hofuitspraak ‘n hofbevel is, maar die implikasies daarvan strek langer as die tydperk van vyf jaar by ’n kredietburo. Wanneer die landdros die hofuitspraak teken, kry die kredietgewer sekere regte oor die skuld waaroor die uitspraak handel, verduidelik hy.
Dié bevel gee die kredietgewer ’n tydperk van 30 jaar om die geld wat verskuldig is, terug te kry. Die kredietgewer kry ook die reg om alle beskikbare wetlike maniere te gebruik om die geld terug te kry, onder meer om ’n deel van die skuldenaar se salaris te gebruik om die skuld te delg.
Daarom, stel Van Schalkwyk voor, is dit nodig dat iemand wat geld skuld, met sy kredietgewer onderhandel oor terugbetalings, selfs vir rekeninge op die swartlys, omdat die rekeninge rente ophoop en net meer word.
Kontak die ombudsman vir hulp by telefoonnommer 0860 66 2837, ombud@creditombud.org.za of www.creditombud.org.za.