René Vollgraaff,
Foord Batebestuur het onlangs sy nuwe buigsame fonds geloods wat beleggers kan help om inflasie te klop deur in alle beskikbare bateklasse te belê.
Volgens mnr. Paul Cluer, besturende direkteur van Foord, wou hulle ’n fonds hê wat nie beperk word deur blootstellingsperke op batetoewysing of tot ’n enkele bateklas of land nie.
“Dié fonds is ’n eenstop-belegging vir mense wat wêreldwye diversifikasie wil hê,” sê hy.
“Buigsame beleggingsfondse wat ’n benadering van dinamiese batetoewysing volg, is baie goed geposisioneer om die beste moontlike langtermyn-opbrengs met die laagste beleggingsrisiko te toon.”
Cluer sê die fonds is gemik op beleggers wat groter aanpasbaarheid vereis as wat die tradisionele omsigtige fondse bied wat juis ontwerp is om binne die beperkings wat pensioenfondse geld, te bly.
Volgens Cluer is die fonds se teiken verbruikersprysinflasie sonder rente op huisverbande (VPIX) plus 5% per jaar.
“Sommige rolspelers kan meen dít is te aggressief, maar ons glo dis billik en haalbaar op lang termyn,” sê hy.
Foord se prestasietarief word eers gehef wanneer dié teiken bereik en die basiese koste van 1% per jaar verhaal is.
Cluer sê die tarief is gestruktureer volgens daaglikse afwykings. Beleggers wat in die fonds belê wanneer die prestasie nie so goed is nie, hoef dus nie die prestasietarief te betaal vir prestasies in die verlede waarin hulle nie gedeel het nie.