André Burger
Suid-Afrikaners het die afgelope paar jaar ’n ekonomiese bloeitydperk beleef soos selde voorheen in die geskiedenis: ’n ekonomiese groeikoers van byna 6%, groei in residensiële eiendomswaardes van 20% en meer, asook die aandelebeurs wat uit sy nate gebars het.
Hoe drasties het dinge nie nou verander nie, met ’n weghol-olieprys en ’n stygende inflasiekoers.
Blootstelling aan die wêreldmark kan voordelig wees, maar kan ook bepaalde nadele inhou. Die vermelde veranderings kan ’n regstreekse of onregstreekse impak hê op die maandelikse kontantvloei van individue en huisgesinne.
Wat word bedoel met die konsep “waarde skep in jou eie balansstaat”? Elke mens het net soos ’n onderneming ’n bate- en ’n laste-kant.
’n Bate verwys gewoonlik na ?eiendom, hetsy ’n erf, ’n huis of enige ander vorm van eiendom. Ander vorme van bates, wat nie verband hou met die strekking van hierdie bespreking nie, kan ’n soortgelyke uitwerking op die balansstaat hê.
Binne die konteks van hierdie bespreking kan laste gedefinieer word as rentedraende skuld. Dit kan lang termyn of kort termyn van aard wees. Dus: dit is ’n rentedraende verpligting wat maandeliks nagekom moet word.
Wanneer daar dus van die begrip “netto batewaarde” gepraat word, verwys dit na jou bates minus laste wat bepaal wat jou finansiële waarde is, hetsy in jou persoonlike naam of in jou trust.
’n Positiewe netto batewaarde is slegs moontlik deur middel van kontantvloei. Kontantvloei is die beginpunt.
Een van die grootste probleme wat Suid-Afrikaners met die bestuur van hul geldsake het, is dat daar nie goed genoeg op kontantvloei gefokus word nie. Geld sal eerder bestee word aan gemaklike en luukse bates as wat dit belê word in ’n groeiende vorm van bates wat met verloop van tyd toeneem in waarde, soos ’n eiendom.
In die boek Rich Dad Poor Dad deur Robert Kiyosaki bevestig en illustreer hy die bogenoemde beginsel.
As jy dus wonder waar jy moet begin, kan jou kontantvloei jou eerste stap in die rigting van waardeskepping wees. Wees krities ten opsigte van die uitgawes wat jy aangaan. Vra jouself die vraag – voeg die uitgawe waarde toe?
Die volgende vraag is seker hoe jy jou kontantvloei kan verbeter. Daar is verbandprodukte in verskeie vorme beskikbaar wat skuld kan konsolideer en herstruktureer teen die voordeliger rentekoers van ’n verband.
Ag moet egter daarop geslaan word om nie korttermynskuld in langtermynskuld te verander nie – dit is nie ’n strategie wat tot jou voordeel is nie.
Watter strategie moet ek volg om die waarde in my eie balansstaat te behou, te beskerm of selfs uit te brei?
Hier moet na bates gekyk word in terme van hul vermoë om te groei in waarde, inherente risiko’s en hul vermoë om kontantvloei te genereer.
Wanneer jy sulke besluite moet neem, raadpleeg verkieslik ’n onafhanklike party wat jou goeie raad kan gee. Vaste rentekoerse kan ook as opsie oorweeg word, veral in kombinasie met gekoppelde koerse. Nadat jy waarde geskep het, kan jy tot die volgende stap oorgaan deur die eiendom te hefboom.
Die hefboom-beginsel word toegepas deur die netto batewaarde in jou bestaande eiendom te gebruik as sekuriteit om verdere beleggings in eiendom te doen. Dit is ’n konsep wat veral goed met eiendom werk, binne kontantvloeiperke, natuurlik.
Ten spyte van die huidige ekonomiese klimaat is daar nog vele geleenthede. Dit is egter van kardinale belang om dié besluite te neem met die hulp van kundiges wat oor die nodige kennis en ondervinding beskik. Advies is vrylik beskikbaar, maar goeie advies moet geselekteer word.
)
Burger is prinsipaal van PSG Konsult Eiendom- en Batefinansiering.