Flip Meyer
Wêreldwyd is daar vrese oor ’n resessie en hoër inflasie, en in die algemeen is verbruikers in ’n negatiewe stemming.
Maar in teenstelling hiermee is daar buitengewone korporatiewe bedrywighede soos oornames en samesmeltings wat in sig is. Hoekom?
In tye wanneer aandeelpryse daal en die aandelemarkte in ’n negatiewe spiraal is, sal maatskappye wat na winskopies op soek is, juis baie bedrywig wees. Toe die aandelemark in ’n bulfase was, moes daar peperduur vir bates betaal word.
Daarby is dit deesdae ’n goeie opsie om oornames met aandeeluitreikings te finansier, ondanks die feit dat aandeelpryse daal. Gewoonlik is dit beter om oornames te doen as aandeelpryse hoog is, maar die koste van kapitaal het gestyg en aandeeluitreikings is steeds ’n gunstige opsie pleks van om lenings aan te gaan.
Dit is egter net een rede.
Nog een is dat verskeie maatskappye ou bates besit wat as “moeg” bestempel kan word. Die berigte oor die aanbiedinge vir Telkom se bates is eintlik nie ’n verrassing nie. Die vastelyn-bedrywighede is “moeg” en ’n nuwe aanslag is nodig om die winsgewendheid daarvan te verbeter. Telkom se 50%-belang in Vodacom is ook ’n ongesonde situasie wat reggestel moet word.
Dit lyk of die huidige tydvak een gaan wees waar wanbalanse reggestel moet word en bates wat oud en moeg is, nuwe lewe kry. Daar is ook ’n tendens om ou, maar doeltreffende bates se waarde te ontsluit. Die moontlikheid dat British American Tobacco (BAT), waarvan Remgro 10,6% besit, op die JSE kan noteer, is nou ter sprake. Vir die aandeelhouers van Remgro en effektetrust-beleggers wie se portefeuljes Remgro insluit, sal só ’n stap goeie nuus wees. ’n BAT-notering sal waarde vir hulle ontsluit, want BAT-aandele sal uitgereik word.
Terloops, dit sal interessant wees om te sien wat met die JSE se top-20-indeks sal gebeur as BAT op die JSE sou noteer. ’n Hele paar maatskappye sal waarskynlik plek vir BAT in die indeks moet maak. Portefeuljebestuurders sal BAT se aandele moet koop en bestaande aandele in die top-20-indeks moet verkoop.
Dieselfde sal met Telkom se aandeelhouers gebeur as die groep ontbind en sy bates in afsonderlike eenhede verkoop word. Sy huidige aandeelprys wys dat die mark wag vir nuwe feite voordat daar ’n kans sal wees dat die aandeelprys styg.
Die ou gesegde van “koop op grond van bespiegelings en verkoop op feite” is nou ter sprake.
MTN is byna daagliks in die nuus oor die moontlikheid van ’n samesmelting met of oorname van die Indiese reus Reliance Communications. Bespiegelings oor oornames en samesmeltings oorheers.
Indien Standard Bank vir Liberty Holdings sou uitkoop, sal dit ook die einde van ’n era wees.
Oor die volgende jaar of twee gaan daar heelwat veranderinge aan die korporatiewe front kom, al sou ekonomiese slaptes voortduur.
)
Meyer is ’n vryskutjoernalis. Sy webtuiste se adres is www.flipmeyer.com.