Maarten Mittner
Hulpbronaandele het die afgelope aantal jare ’n skitterende lopie op die JSE en wêreldwyd gehad.
As jy die afgelope drie jaar ’n effektetrustbelegger in Investec se kommoditeitsfonds was, kan jy breed glimlag.
Die jaarlikse opbrengs die afgelope drie jaar het 58,7% beloop, met nie een van die agt gespesialiseerde effektetrusts in die sektor wat swakker as 47% gepresteer het nie.
Dit is beter as wat jy in enige ander sektor sou kon verdien, selfs die algemene-effektetrustsektor, waar ’n keur-effektetrust soos ?Allan Gray Ekwiteit met 32% per jaar oor drie jaar gegroei het.
Wanneer ’n sektor so ’n ooglopende bullopie ondervind, is die natuurlike vraag of dit kan voortduur en of die mark nie ’n bietjie oorverhit raak nie. Moet wins geneem word of is daar nog vuur in die bul?
Menings verskil onder die kenners oor wat vir die sektor voor die deur lê.
Op die oog af lyk hulpbronaandele teen ’n gemiddelde prys-verdienste-veelvoud (p/v) van 23 aan die duur kant.
Die markgemiddelde van die indeks van alle aandele lê by 15,5, wat daarop dui dat beter waarde gevind kan word by finansies (13) en nywerheidsaandele (16).
Mnr. Gary Quinn, mynontleder by Prudential, sê dit is miskien tyd om die handrem effens op te trek. Hy is nie noodwendig pessimisties oor kommoditeitspryse nie, maar sê die verdienstegroei van hulpbronondernemings kan onder druk kom.
Hy verwys na kostestygings wêreldwyd wat deur hulpbronmaatskappye geabsorbeer word, soos onder meer oliepryse, wat tweederonde-gevolge in die breë ekonomie begin veroorsaak.
Krag?tekorte, sowel as toenemende regeringsinmenging by die ver?skaffing van mynlisensies, kan teen die agtergrond van swakker globale groei tot ’n afname in die voorsiening van kommoditeite lei.
“Daar is reeds aanduidings dat platinumproduksie begin afplat, ’n tendens wat nou ook na goud, diamante en koper uitkring,” sê hy.
Mnr. Willem Fraser, beleggingsbestuurder van Nedgroup se waarde- en stabiele fondse, wys daarop dat valutakwessies en die skuldhefboomverhouding steeds in die guns van hulpbronmaatskappye werk. Selfs al styg insetpryse, sal gemiddelde groei van 70% in sy verdienste ’n vooruit verwagte p/v van 13 meebring.
“Hoewel nie goedkoop nie, is dit laer as die huidige 23.”
Mnr. Daniel Malan, bestuurshoof van Nedgroup se Bestuurde Fonds, skaar hom merendeels by Prudential se siening en sê die huidige hoë aandeelpryse van verskeie hulpbronmaatskappye verdiskonteer ’n voortsetting van die huidige “perfekte” tendens oor die volgende tien jaar.
Dit is onwaarskynlik dat die goeie tye vir ewig sal voortduur.
Dit lyk daarom teen dié agtergrond of ’n gemiddelde belegger waarskynlik wys sal wees om wins te neem, maar steeds ’n blootstelling aan die kommoditeitsmark te behou.
Een van die redes is dat heelwat korporatiewe optrede by die groot hulpbronmaatskappye verwag word. Dit behoort Anglo American en BHP Billiton, steeds die grootste myngroepe op die JSE, te bevoordeel.
Hoewel die meeste Suid-Afrikaners waarskynlik glo Anglo is ’n groot maatskappy, is hy aan internasionale standaarde gemeet besig om terug te val. Waar hy voorheen een van die top-drie myngroepe ter wêreld was, lê hy tans vyfde, volgens die jongste oorsig van ?PricewaterhouseCoopers.
Billiton is tans met ’n markwaarde van $190 miljard die grootste gediversifiseerde myngroep ter wêreld, gevolg deur Rio Tinto ($160 miljard) en die Brasiliaanse Vale-groep ($150 miljard).
Anglo is met R715 miljard (sowat $89 miljard) selfs kleiner as die Chinese Shenhua-groep ($120 miljard), met Xstrata wat nou in die sesde plek is. Billiton se markwaarde op die JSE beloop sowat R670 miljard.
Korporatiewe aksie wat reeds aan die gang is, sluit in Billiton se oornameplanne vir Rio Tinto. Daar is ook gerugte dat Anglo en Xstrata kan saamsmelt of dat ’n transaksie met Vale moontlik is. Een van die redes vir die belangstelling in Anglo, is Anglo se relatief lae markaanslag teen ’n p/v van 13 – selfs onder die JSE se gemiddelde aanslag.
Verdere korporatiewe konsolidasie hou dus die moontlikheid in van ’n opwaartse herwaardering van Anglo, wat op sy beurt die ?hele kommoditeitsektor en die JSE in sy geheel sal bevoordeel.
Om die toppunt van die kommoditeitsiklus reg te voorspel, het ál moeiliker geword.
Die laaste werklike insinking was in 1999, met effense verlangsamings sedertdien in die kommoditeitsiklus wat vinnig opgevolg is deur ’n herstel. Met die volgehoue vraag na kommoditeite in China en Indië, kan die siklus nog lewe hê, hoewel hy volgens sommige ontleders reeds 80% van die huidige pad afgelê het.