Joanita Cillié,
Sommige vroue wil gered word. Hulle is só bedraad.
En aangesien duisende vroue voel hul geldsake is in gevaar, is dit veral hier waar hulle oor ’n prins op ’n wit perd droom.
Só meen me. Sunél Veldtman, direkteur van Barnard Jacobs Mellet en aanbieder van die slypskool “A feminine touch on finances”.
Dié vroue leef nie noodwendig in onkunde nie.
Hulle is bewus van wat gedoen moet word, maar om die een of ander rede word finansiële besluite vir die toekoms gelos, net om nooit uitgevoer te word nie.
Vroue móét sake in hul eie hande neem, want die kans dat hulle nie iemand anders sal hê om op staat te maak nie, is baie groot.
Sowat 80% van vroue sal in hul leeftyd self hul finansies bestuur.
Die rede hiervoor is grootliks omdat vroue langer leef as mans. Sowat 80% van weduwees wat in armoede leef, was nie voorheen arm nie. Baie vroue word ook weer enkellopend. ’n Geskeide vrou se lewenspeil daal dikwels.
Vroue het gemiddeld ’n laer inkomste as mans en het ook meer beroepsonderbrekings.
Volgens Veldtman, wat reeds ’n paar jaar as fondsbestuurder praktiseer, is dit juis mans wat gevra het dat sy hul vroue help, en dit het tot haar ondersoek na vroue en hul finansies gelei. Veldtman het besef “as dit vir my so moeilik is om iets te vind om met my geld te doen, hoe moeilik moet dit nie vir ander vroue wees nie”?
Volgens haar is daar drie dinge wat gedoen kan word om jou geld te laat groei.
Dit kan gegee word aan iemand wat ’n rente-inkomste verseker. Tweedens kan in genoteerde maatskappye belê word om dividende te verdien. Laastens kan kapitaalgroei nagejaag word.
Sy meen vroue is baie minder geneig om risiko’s te neem. Daarom moet vroue eerder aspirasie-doelwitte stel en finansiële besluite neem om dít te bereik.
“Daar is nie so iets soos rasionele beleggers nie,” meen Veldtman. “Ons moet almal verstaan hoe ons finansiële besluite deur ons emosies beïnvloed word.” Dit is ook die beste om ’n finansiële adviseur te kry wat vertrou kan word en na wie jy weer en weer kan gaan vir hulp.
Veldtman sluit die slypskool af met ’n vyfpuntplan vir rykdom.
) Eerstens moet jy jou vergewis van jou (en jou man) se situasie.
) Tweedens moet jy betrokke raak by jou gesin se finansies. “Baie vroue voel asof hulle nie juis ’n sê het in die finansiële besluite nie omdat hulle baie minder of geen geld inbring nie. Tog sien hulle om na die intellektuele kapitaal van die gesin – die kinders. Dus het hulle definitief onderhandelingsmag,” meen Veldt?man.
) Derdens moet vroue moet hul eie beleggings doen.
) Vierdens moet hulle gereeld praat oor geld.
) Laastens moet hulle dankbaar wees vir wat hulle het.