André Diederichs, Lesse uit die wildlewe
Kan jy verwronge marktoestande herken, of hou jy bloot aan om teen volle vaart in die verkeerde rigting te beweeg?
Selfs diere kan nie altyd op hul buitengewone sintuie staatmaak nie omdat dit in sekere omstandighede onbetroubaar is. Kom ons leer hieruit.
Duiwe gebruik die son, maan en hul magnetiese sin om rigting te bepaal. As hulle egter oor magnetiese rotse vlieg, kan hulle gedisoriënteerd raak omdat die rotse die aarde se magnetiese velde verwring – dikwels met rampspoedige gevolge.
Pas uitgebroeide seeskilpaaie soek weer die veiligheid van die oseaan op voordat hulle die prooi van roofdiere word. Hulle maak gebruik van die verligte horison – die maan wat op die oseaan skyn – om hul koers te bepaal. Namate meer en meer huise en hotels egter aan die kus opgerig word, volg die skilpaadjies hierdie kunsmatige lig op pad na ’n gewisse dood.
Motte bepaal op hul beurt koers deur in die rigting van die maan te vlieg. Ongelukkig word hulle dikwels deur die buiteligte van huise gelok sodat hulle nooit hul bestemming bereik nie.
Hetsy jy ’n nuwe onderneming begin of ’n bestaande een bestuur, is dit belangrik dat jy die regte geleenthede opvolg en jou nie laat verlei deur onrealistiese idees wat nie op lang termyn winsgewend sal wees nie.
Ook kan veranderings in die mark saketoestande in so ’n mate verwring dat ’n tradisionele ?respek vir sukses maklik kan ontaard in ’n resep vir mislukking – byvoorbeeld om videomasjiene te vervaardig vir ’n mark wat DVD-spelers koop, of om na Pretoria te ry om aan die Argus-fietstoer deel te neem.
Die “navigasiemiddele” wat jy inspan om haalbare sakegeleenthede op te volg, sal help om seker te maak dat:
) Die mark aan wie jy wil verkoop, identifiseerbaar is – dus ’n werklike mark en nie ’n kunsmatige een nie;
) Jou mark toeganklik is en dat daar aanvaarding in die mark is vir die produkte of dienste wat jy bied, met ander woorde dat jy iets verkoop wat die mark wil hê; en
) Die mark meetbaar is, deur vas te kan stel of die beloning vir jou werk die moeite werd gaan wees en nie die grootte van die mark te raai nie, maar presies vas te stel hoe groot dit is en seker te maak dat dit groot genoeg is vir langtermyn-volhoubaarheid.
Fokus op ’n enkele sake-konsep op ’n slag. Dit sal dit makliker maak om inspirasie te kry omdat jou moeite nie afgewater word nie. Om te fokus beteken nie net om tyd en energie te belê nie, maar ook om inspirasie te put!
Die waarde wat jou kliënte raaksien, is die werklike kernproduk of -diens wat jy behoort te verkoop. Om te mik na die maan of sterre is deel van entrepreneurskap – maak net seker dat jou konsep jou én jou mark inspireer.
Vir nader inligting stuur ’n epos aan adiederichs@oldmutual.com
)
Diederichs is Ou Mutual se KMMO-spesialis.