’n Berg struikelblokke verhinder mense wat vir die eerste keer ’n huis wil koop, om nou tot die mark toe te tree.
Onder die faktore tel die skerp groei in huispryse sedert 2000, die uitwerking van die Nasionale Kredietwet, die strenger uitleenkriteria van banke, ’n afname in die groei van verbruikers se netto besteebare inkomste weens hoë inflasie en stygende rentekoerse.
Ten spyte van ’n verlangsaming in huisprysgroei sedert laat 2004 en die feit dat huispryse nog nie aan ’n breë front daal nie, bly huise duur en speel bekostigbaarheid ’n kernrol.
Mnr. Jacques du Toit, senior eiendomsontleder van Absa se huisleningafdeling, sê sedert 2000, wat as die begin van die onlangse sterk bloeifase in die huismark beskou word, het nominale huispryse met 285% toegeneem. Dit beteken dat ’n huis wat in die begin van 2000 R250 816 gekos het, nou R965 487 sal kos.
’n Tweede faktor is die kredietwet, wat die verkryging van huisfinansiering bemoeilik. Waar daar voor die instelling van die wet verlede jaar in Junie na die bruto maandelikse inkomste gekyk is om te bepaal of die koper ’n huis kan bekostig, is die netto oorskotinkomste nou die grondslag van bekostigbaarheid.
Du Toit sê in die verlede moes ’n huiskoper se maandelikse verbandpremie verkieslik nie meer as 30% van sy bruto maandelikse inkomste uitmaak nie. “Nou word die verbandlening toegestaan op grond van die netto oorskotinkomste, wat die inkomste is nadat die totale uitgawes van die huishouding afgetrek is.”
As in ag geneem word dat die groei in die reële besteebare inkomste van huishoudings skerp afgeneem het soos wat inflasie toegeneem het, bly daar min oor vir verdere skuld.
Hy sê die groei in die reële besteebare inkomste, wat in die vierde kwartaal van 2006 9% was, het tot 2,7% in die eerste kwartaal van vanjaar afgeneem, terwyl inflasie tans op 11,7% staan.
Dan is daar die strenger uitleenkriteria van banke, waar 100%-verbandlenings nie maklik toegestaan word nie en ’n deposito van tot 20% vereis word, afhangend van hoe groot die lening is en hoe die kredietprofiel van die kliënt daar uitsien.
Laastens het hoër rentekoerse ’n ernstige impak op bekostigbaarheid gehad. “Verbandpaaiemente het sedert Junie 2006 met gemiddeld 35% toegeneem as gevolg van stygende rentekoerse,” sê hy.
Ter illustrasie gebruik hy ’n 100%-verbandlening van R500 000 oor 20 jaar. In Junie 2006, toe die verbandkoers 10,5% was, het die maandelikse terugbetaling R4 992 beloop. Nou, teen ’n verbandkoers van 15,5%, is dit R6 769 per maand, dus R1 777 meer.
Dit laat mense wat nie ’n huis kan bekostig nie, tans met geen ander opsie as om te huur nie.
Die groot nadeel daarvan is dat hulle nie deel in die kapitaalappresiasie van ’n eiendom oor tyd nie en ook nie die eiendom as kollateraal kan aanwend vir ander skuld nie.