Baie mense dink dalk omdat hulle ’n mediese fonds het, word al hul hospitaalkoste gedek.
Dink weer.
“Dit kan ’n verkeerde opvatting wees aangesien die meeste dokters en spesialiste tariewe vra wat veel hoër is as wat die meeste mediese fondse betaal,” sê mnr. Johann Grobler, bestuurshoof van Absa se fidusiêre groepering.
Gapingdekking, soos die naam impliseer, is ’n versekeringsproduk wat bedoel is om die gaping tussen dít wat mediese fondse betaal en dít wat die werklike hospitaalkoste is, te oorbrug.
Gapingdekkingsprodukte is reeds geruime tyd beskikbaar, maar instellings soos Absa Gesondheidsorgkonsultante het dit nog nie bemark nie aangesien dit as strydig met die Wet op Mediese Skemas, Wet No. 131 van 1998, beskou is.
In ’n onlangse mylpaalbeslissing van die appèlhof het die produk egter die groen lig gekry.
Gapingdekking voorsien dekking vir ’n hele gesin wat by ’n mediese fonds geregistreer is.
Dit maak voorsiening vir die tekort tussen die amptelike of nasionale gesondheidsverwysingspryslys (NGVPL) en dít wat die mediese fonds uitbetaal.
Premies van minder as R100 per maand sal al die gesinslede en geregistreerde afhanklikes van ’n fondslid dek.
Die potensiële bybetaling van R29 153,03 vir ’n hartvatomleiding vir ’n lid van ’n mediese fonds wat net 100%van die NGVPL-koste betaal, sal deur die gapingdekkingsproduk gedek word vir ’n redelike premie van R75 per maand vir ’n hele gesin (kyk na bygaande tabel).
Absa Gesondheidsorgkonsultante meen die gapingdekkingsproduk is geskik vir enige lid van ’n mediese fonds wat dekking ontvang vir ’n tarief van minder as 300% van die NGVPL.
Indien jy graag meer wil uitvind oor die gapingdekkingsproduk, kontak ’n finansiële adviseur.