Nellie Brand,
Dit is baie moeilik om ’n effektetrust in Suid-Afrika te vind met ’n billike tariefstruktuur.
Dít is een van die bevindings van mnr. Kevin Macdonald van Frater Bate?bestuur in ’n onlangse ondersoek na effektetrusts. Hy het ook bevind dat maatstawwe waarteen die prestasie van fondse gemeet word, dikwels klaarblyklik onvanpas is.
Volgens hom is die vergoedingstrukture ook só ontwerp dat fondsbestuurders steeds vergoed word ten spyte van wesenlike onderprestasie.
Volgens hom moet beleggers met die huidige lae of negatiewe opbrengste wat effektetrusts lewer, versigtiger wees oor die tariewe wat gehef word. Hy glo prestasietariewe moet die debat se hoofagendapunt wees.
Die effektetrustbedryf het sedert 2003 in ’n sterk mark buitengewone opbrengste getoon. Macdonald glo dit het verseker dat beleggers bereid was om twyfelagtige prestasiestrukture te aanvaar. “Wie gaan kla oor ’n 3%-prestasietarief as ’n fonds ’n opbrengs van 30% lewer,” het hy gesê. “Dit was baie maklik om geld te genereer in ’n bulmark soos dié van die afgelope jare.”
Fondsbestuurders verdien miljoene rande uit prestasiegeld.
Macdonald het bereken dat een van die groot en gevestigde fondse (hy noem nie die naam nie) die afgelope 12 maande R500 miljoen verdien het uit prestasiegeld. Oor dié tydperk is ’n negatiewe reële opbrengs aan beleggers gelewer.
Volgens hom is min effektetrustfondse die afgelope drie jaar begin wat nie prestasiegeld hef nie.
Die prestasietarief word dikwels gehef op ’n basistarief wat normaalweg ’n persentasie van die bates beloop. Die prestasietarief word verdien as ’n sekere maatstaf wat gestel is, oortref word. Prestasietariewe behels normaalweg 10% tot 20% van dit waarmee die maatstaf te bowe gegaan word.
Macdonald meen prestasietariewe is juis gevaarlik omdat dit sinvol lyk. Dit is veronderstel om die fondsbestuurder en kliënt se belange op dieselfde spoor te sit. “Dit maak prestasievergoeding maklik om te bemark en kan misbruik word,” het hy gesê. Hy glo dat prestasietariewe nie ’n slegte ding is nie, maar dat dit swak ontwerp word.
Sy raad aan beleggers is dat seker gemaak moet word die maatstaf waarteen ’n fonds se prestasie gemeet word, is gepas. Byvoorbeeld is die inflasiekoers nie ’n gepaste maatstaf vir ’n aandelefonds nie, meen hy.
Die maatstaf se bogrens wat oorgesteek moet word voordat ’n prestasietarief verdien word, moet ook billik wees.