Maarten Mittner
Leef jy bo jou vermoë?
Die meeste Suid-Afrikaners sal waarskynlik ja antwoord. Maar in ’n ondersoek deur Ipsos Markinor het interessante teenstrydige persepsies tussen bevolkingsgroepe oor die kwessie na vore gekom.
Gemiddeld glo ses uit tien Suid-Afrikaners (64%) dat die meeste mense bo hul vermoëns leef en meer uitgee as wat hulle verdien. Maar dié siening kry die meeste steun onder die Indiërbevolking waar 89% meen dit is die geval, gevolg deur bruin mense (81%) en wit mense (76%), maar net 59% van swart mense.
Dit beteken dat ’n groot deel van die bevolking meen daar is moontlik ruimte om nog verder skuld aan te gaan op ’n tydstip dat skuldvlakke die afgelope vyf jaar nuwe hoogtes bereik het. Hoër inflasie en stygende rentekoerse het skadeliker gevolge vir juis dié deel van die bevolking.
Ook by diegene met hoër opvoedkundige kwalifikasies is daar meer begrip vir skuld en die implikasies daarvan. Altesame 83% met ’n tersiêre kwalifikasie meen Suid-Afrikaners leef bo hul vermoë, maar net 51% van Suid-Afrikaners met geen tersiêre kwalifikasie nie.
By huishoudings wat meer as R12 000 per maand verdien, meen ’n oorweldigende 85% dat mense te veel bestee vergeleke met hul inkomste. By huishoudings wat net R1 119 per maand verdien, meen 57% dit is die geval.
Die ondersoek het uitgewys dat min begrip by verbruikers bestaan oor die regering se strategie om deur hoër rentekoerse besteding in te kort. Net 2 uit 10 (24%) ondersteun dié gedagte.
Sommige kenners is bekommerd oor die verbruikersbestedingskultuur wat in Suid-Afrika bestaan. Hulle meen daar sal net ’n kentering ontstaan as ’n groter spaarsin gekweek word deur huidige wetgewing te verander.
Dit is nou te laat vir mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, om vanjaar iets daaraan te doen. Maar mnr. Paul Beadle, hoof van die internetadviesportaal justmoney, doen aan die hand dat Manuel dit volgende jaar moet oorweeg om alle belasting op sommige spaarrekenings op te hef.
“Belastingvrye ISA-rekenings in Brittanje is baie gewild,” sê hy. Oorweging moet ook geskenk word aan belastingverligting vir eerste huiskopers en belastingvrye spaarrekenings vir kinders onder 16 jaar. Eers wanneer die spaarkultuur onder Suid-Afrikaners posvat, sal die kanse toeneem dat hulle verlos word van oormatige besoeke aan winkelsentrums en die gebruik van kredietkaarte om kos en klere te koop.
>>’n Groot deel van die bevolking meen daar is nog ruimte om nog
verder skuld aan te gaan