Jacques Simpson,
Elke dag verskyn inligting in die koerant oor hoe die rand op die wêreldmarkte gevaar het.
Baie Suid-Afrikaners meen dit het nie ’n regstreekse uitwerking op hul sak nie.
’n Mens kan nie meer verkeerd wees nie. ’n Sterker rand verlig die druk op inflasie wat gevolglik lei tot laer inflasieverwagtinge. ’n Swakker rand lei tot duurder invoer en rentekoersverhogings.
Nog faktore wat die waarde van die rand beïnvloed, sluit in die koopkrag-teorie, kommoditeitspryse en die dollar se waarde teenoor ander laerisiko-geldeenhede. Die koopkrag-teorie is kortweg dat ’n wisselkoers die relatiewe koopkrag van twee geldeenhede weerspieël. Gestel twee lande dryf handel en die een het ’n baie hoër inflasiekoers as die ander.
Inflasie verswak in praktyk die koopkrag van ’n geldeenheid en die wisselkoers moet dit reflekteer. Gevolglik sal die land (met die hoër inflasiekoers) se wisselkoers mettertyd verswak in dieselfde tempo as wat sy inflasiekoers styg teenoor dié van sy handelsvennoot.
Kommoditeitspryse beïnvloed die rand op twee maniere:
Meer oorsese valuta word verdien, wat lei tot meer valuta wat verruil word vir rande – die vraag na rand-valuta styg. Dit het ’n positiewe uitwerking op die lopende rekening. Hoër verdienste op hulpbronaandele lok oorsese beleggers. Gevolglik word meer rande aangevra om plaaslike aandele te koop. Dit het ’n positiewe uitwerking op die kapitaalrekening.
Kommoditeite het die afgelope ses jaar ’n buitengewone sterk lopie geniet. ’n Groot gedeelte daarvan kan toegeskryf word aan die groot vraag na kommoditeite in China, asook stabiele groei in die G7-lande oor dieselfde periode.
Stewige kommoditeitspryse, wat gunstig is vir die rand, het ’n aantal risiko’s. Die eerste is as groei in ontluikende sowel as ontwikkelde markte verlangsaam. Gegewe die situasie in die VSA-ekonomie, blyk die vraag te wees hoe lank groei in die ontluikende markte nog vir die gebrekkige groei in die VSA kan vergoed. ’n Swakker vraag na kommoditeite sal swakker pryse tot gevolg hê.
’n Tweede risiko is dat spekulante tot die kommoditeitsmarkte toetree in só ’n mate dat die prys van kommoditeite nie meer die onderliggende vraag na hulpbronne weerspieël nie. Dan kan die mark met tot 15% daal.
’n Derde risiko is die mate waartoe die myne hierdie hoër pryse kan omskep in ware verdienste. Die afgelope twee jaar was daar ’n paar myne wat gesukkel het om volumes te verhoog om sodoende die prysverhogings te reflekteer in tasbare wins. Dit lei daartoe dat beleggers ander beleggingsgeleenthede opsoek.
Die dollar se relatiewe sterkte word gewoonlik gemeet teenoor die euro. Die rede hiervoor is dat baie lande hul geldeenhede vaspen aan die dollar en sodoende versterk en verswak baie geldeenhede saam met die dollar. Die euro-gebied se wisselkoers word merendeels deur die vrye mark bepaal. Dié wisselkoers gee ’n goeie aanduiding van die ware sterkte van die dollar.
’n Swak dollar (teenoor die euro) beteken dat die rand ook sterk kan wees teenoor die dollar, en omgekeerd. Streng gesproke moet die rand sterker verhandel as die huidige dollar-euro-wisselkoers in ag geneem word. Die rede hoekom dié verwantskap op kort termyn verbreek is, is omdat ontluikende markte (veral dié met hoë likiditeit in die valutamark) afverkoop het namate die krisis in die VSA se huismark en veral die impak daarvan op banke se balansstate vererger het.
Tweedens het laer groeivooruitsigte in die VSA ’n omvattende impak op die risiko-aptyt vir ontluikende markte se bates.
Wat koopkragpariteit betref, lyk die vooruitsigte vir die rand swak omdat Suid-Afrika ’n hoër inflasiekoers as sy meeste handelsvennote het. Wat koopkragpariteit betref, behoort die rand geleidelik te verswak met 30c tot 60c teenoor die dollar per jaar.
Wat kommoditeitspryse betref, behoort die tempo van verstede?liking en die gevolglike vraag na hulpbronne die prys van kommoditeite te ondersteun. ’n Regstelling van tussen 5% en 8% is waarskynlik, maar hoër pryse is dalk hier om te bly omdat demografiese realiteite in China en Indië die owerhede verplig om toenemende verstedeliking te akkommodeer by wyse van infrastruktuur-ontwikkeling.
Wat dollarsterkte betref, is daar vrae oor hoe volhoubaar dit sal wees. Die VSA is steeds een van die innoverendste en produktiefste lande ter wêreld. Daarenteen is die euro-gebied baie rigied en onbuigsaam wat arbeidsbeleid en arbeidsproduktiwiteit betref.
Baie kenners meen dat die euro se sterkte eerder tydelike pessimisme oor Amerikaanse groei en nywerheidsproduksie weerspieël as wat dit noodwendig groot optimisme oor die euro-ekonomie toon. Sodra die tydelike impak van die krisis in die huismark geabsorbeer word in die VSA, kan almal verras word deur die tempo waarin die dollar versterk teenoor sy handelsvennote.
Dit is slegte nuus vir die rand en kan meebring dat hy vinniger verswak. Aan die ander kant is daar ook positiewe tendense wat hom kan ondersteun, soos hoër ekonomiese groei in Suid-Afrika as in die verlede, groter produktiewe kapitaalbesteding, ’n onderwaardering van sekere batesektore op die JSE en hoër rentekoerse.
Die risiko’s blyk aan die negatiewe kant te wees. Vir gewone mense beteken dit hoër rentekoerse en die aangaan van minder skuld vir minstens die volgende 12 maande.
) Simpson is portefeuljebestuurder: vasterente by Metropolitan Batebestuurders.