Die stof oor die Fidentia-skandaal het nog nie gaan lê nie en trustees van aftreefondse voel dalk onseker oor hul vermoë om gewetenlose finansiële-dienstemaatskappye te vermy.
Die weldeurdagte toepassing van die beginsels en riglyne in die Raad op Finansiële Dienste (RFD) se PF 130-omsendbrief kan hulle help om die vrot appels te vermy.
PF 130, wat vroeër vanjaar uitgereik is, het ten doel om die beginsels van goeie fondsbestuur vir trustees te vereenvoudig en voeg al die belangrikste beginsels in ’n enkele dokument saam.
Die beginsels en riglyne is nie net nog burokratiese rompslomp nie en as dit deur alle aftreefondse toegepas word, kan dit die bestuur van fondse verbeter en alle belanghebbendes help om die fondse in die belang van hulle lede te bestuur.
PF 130 is die beste aanduiding van die regering se siening oor bestuurstandaarde vir die aftreefondsbedryf. Die 13 beginsels bevat bestuursriglyne vir trusteerade, die bedrywighede van die fonds en die bestuur van belanghebbende partye.
So gee beginsel 1 ’n duidelike omskrywing van die rol en verantwoordelikhede van die voorsitter, die hoofamptenaar en die trustees.
Die trustees moet onafhanklik volgens ’n gedragskode optree en vereis ook ’n beleid oor geskenke, ’n aanvaardingsvorm en die openbaarmaking van hul persoonlike belange.
Waar sekere dienste uitgekontrakteer word, moet diensverskaffers onderwerp word aan gereelde en deeglike prestasie-beoordeling. Dit sou enige belangebotsings kan uitwys.
By die aanstelling van ’n diensverskaffer moet nie net na prys en prestasie gekyk word nie, maar ’n diepgaande beoordeling van die diensverskaffer en sy vermoëns is nodig.
By die aanstelling van onafhanklike adviseurs om ’n fonds by te staan, moet trustees seker wees dat hulle onafhanklik optree.
Vrae wat ’n trustee moet vra, is:
) Is die adviseur verbonde aan ’n finansiëledienstegroep?
) Watter versekering kan hy gee dat hy onafhanklik optree?
As daar enige twyfel by die trustees bestaan, moet hulle onpartydig nagaan of die konsultant onafhanklik is, want die trustees is aanspreeklik vir enige besluite gegrond op die kundige advies wat gegee word.
Fondse moet ’n risikobestuursbeleid hê wat jaarliks bygewerk word. ’n Aftreefonds kan net op ’n sinvolle manier risiko’s hanteer as dit duidelik geïdentifiseer is.
Trustees behoort “terug te staan” en na terreine te kyk waar dinge vir die fonds verkeerd kan loop.
Hulle moet hulself afvra of hulle enige beskerming sal hê as die goeie korporatiewe bestuur van die fonds in duie sou stort.
Volgens beginsel 8 van die RFD se PF 130 moet alle aftreefondse ’n beleggingsbeleid hê wat jaarliks aangepas word en wat die ingewikkelde omstandighede van die fonds in ag neem.
Trustees is verplig om ’n kommunikasiebeleid te hê wat in ooreenstemming is met minimum openbaarmakingsvereistes.
Dit is nie goed genoeg as ’n fonds net ’n gereelde nuusbrief aan lede uitstuur nie.
Die fonds kan ook ander openbare forums skep waarop kwessies bespreek kan word soos by ’n algemene jaarvergadering. Dit bied lede die geleentheid om vertroud te raak met hul fonds.
Die verhouding tussen ’n fonds en sy borg (administrateur) moet een wees van samewerking, onafhanklikheid en goeie trou.
Kommunikasie moet altyd deur die voorsitter geskied. Dit is belangrik, want ’n fonds is ’n regspersoon. Trustees wat hul werkgewers in die raad van trustees verteenwoordig, moet dit vermy om kantoorpolitiek by die fonds in te sleep en daarop konsentreer om die fonds in die belang van sy lede te bestuur.
Trustees wat PF 130 as ’n “inkopielys” beskou wat bloot afgemerk moet word, ontsê hulle die geleentheid om korporatiewebestuurskwessies in hul fondse behoorlik aan te pak en op te los.
Onlangse gebeure het getoon hoe vernietigend die gevolge kan wees.
) Craig Aitchison is hoof van Ou Mutual Aktuarisse en Konsultante.