Liana Mocke
Vroue word nie net in die gemeenskap gemarginaliseer nie, maar ook in die pensioensektor.
Dit is die mening van die pensioenfondsberegter, me. Mamodupi Mohlala, wat vanjaar op 1 Junie die beregtersleisels oorgeneem het by adv. Vuyani Ngalwana.
“Die beslissings die afgelope ses maande sedert ek in die kantoor is, het ’n nuwe era van regspleging gebring wat betref die wyse waarop vroue met pensioenwette behandel word,” het Mohlala aan Jou Geldsake gesê.
“Vroue is geneig om die mees gemarginaliseerde lede van ons gemeenskap te wees en vroue se profiel in die pensioensektor verskil ook nie hiervan nie. Daarom, as die nuwe pensioenfondsberegter én vrou, het ek gevoel dis tyd dat dít aandag kry.”
Twee interessante en opspraakwekkende beslissings wat sy onlangs gemaak het, is teken daarvan dat sy haar voorneme gestand doen.
Een van die klagtes waarmee Mohlala lesers in rep en roer gehad het, het gehandel oor die regte van geskeides, nie noodwendig altyd vroue nie, wat nie dadelik met die egskeiding geregtig is op hul deel van die geskeide eggenoot se pensioenvoordeel nie.
Die ander beslissing, sê sy, se hoofdoel was om die stereotipe – dat vroue nie die vermoë het om hul eie finansiële sake te bestuur nie – uit die weg te ruim.
In dié saak het ’n weduwee in haar klagte aan die pensioenfondsberegter aangedui sy is ongelukkig oor ‘n trustee-besluit om ’n gedeelte van haar deel van die voordeel in ’n trust te plaas.
Haar deel is saam met die voordeel wat toegeken is aan die egpaar se kinders, in ’n trust geplaas. Die weduwee was onder die indruk haar deel sou as direkte betaling in haar bankrekening betaal word.
Die beregter het dit in haar uitspraak duidelik gemaak die norm is dat ’n voordeel direk aan ‘n volwasse betaal word, behalwe as daar feitelike gronde bestaan om dit nie te doen, soos dat die volwasse geestelik gestremd is.
Indien trustees besluit om nie direkte uitbetalings aan ’n volwassene te maak nie, moet so ’n besluit berus op deeglike oorweging.
Die redes vir die trustees se besluit om die weduwee se deel ook in die trust te plaas was as omdat sy in daardie stadium werkloos was, nog 25 jaar weg was van haar aftrede en ’n minderjarige kind van vyf jaar gehad het.
Die beregter het beslis dat die feit dat die weduwee ten tye van die beslissing ’n minderjarige kind van vyf jaar gehad het, nie ter sake was nie.
As die trustees werklik bekommerd was oor die vyfjarige, kon hulle eerder ’n groter deel van die oorledene se voordeel aan dié kind toegeken het. Dit was nie die geval nie.
Daar was ook geen bewyse dat die weduwee insolvent was, geestelik gestremd is óf dat enige ander wetlike redes bestaan het wat die trustees kon oortuig om nie die direkte uitbetaling aan haar te maak nie. Die weduwee het die reg om haar eie finansies te bestuur.
Die onlangse egskeidingsbeslissing stel ’n historiese ongeregtigheid reg.
“Dit was onregverdig dat ’n vrou en in sommige gevalle ook mans moes wag vir hul deel van die geskeide eggenoot se pensioenvoordeel totdat die geskeide eggenoot die fonds verlaat, gewoonlik by aftrede.”
Hierdie wagtydperk was in baie gevalle lank en die voordeel het nie gegroei in die guns van die geskeide eggenoot wat nie die fondslid is nie, sê Mohlala.
“Hierdie beslissing hanteer nie net hierdie historiese uitdaging nie, maar bied ook ’n oplossing vir nie-lid-eggenote wie se egskeidingsbevel voor die beslissing op 3 Oktober en die wetswysiging op 13 September gemaak is.”
Die enigste uitstaande kwessie is oor die afdwingbaarheid van die verandering en die belastingimplikasies. Die vraag is watter een van die twee geskeide partye verantwoordelik is vir belasting by die toepassing van die wysiging. ’n Wysigingswet is tans voor die parlement.