Liana Mocke,
In ’n reeks artikels bekyk ons die pensioenfondsbedryf in Suid-Afrika. Die inligting word verstrek deur prof. Naleen Jeram van die Universiteit van Kaapstad en ook senior regsadviseur van Momentum.
Daar is verskeie soorte pensioenskemas in Suid-Afrika – elk staan bekend as ’n pensioenfonds, maar elkeen het sy eie eienskappe wat betref belasting op bydraes, hoe die trustees van ’n fonds gekies word, die onttrekkingsvoordele en die vasstelling van uittree-voorwaardes.
Pensioen- en voorsorgfonds
’n Pensioenfonds is die oudste vorm van ’n pensioenskema en het die volgende algemene eienskappe:
Die werkgewer sowel as die werknemer se bydraes kan afgetrek word van belasting tot en met beperkings wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vasgestel word.
Sedert 7 Desember 1998 het lede van die fonds die reg om minstens 50% van die trustees te kies. Die ander helfte word gewoonlik deur die werkgewer aangestel.
By aftrede (of dit nou vroeë of laat aftrede is), mag die lid slegs ’n derde van die voordeel in kontant neem en die res moet gebruik word om ’n annuïteit of pensioen te koop wat vir die res van sy lewe betaalbaar is.
Die reëls van ’n fonds maak voorsiening vir die betaling in kontant van die onttrekkingsvoordele wanneer die werkgewerskontrak beëindig word voor die aftree-ouderdom.
Maar die SAID probeer hierdie tipe voordeel beperk deur slegs R1 800 as belastingvry toe te laat. Die balans sal teen die gemiddelde van die individuele belastingkoers betaal word.
Voorsorgfondse is gestig as ’n alternatief vir pensioenfondse en het die volgende algemene eienskappe:
Hoewel die werkgewer sy bydraes van belasting kan aftrek tot ’n spesifieke beperking wat deur die SAID vasgestel is, is die werknemer/lid se bydraes nie aftrekbaar van belasting nie.
Soos met pensioenfondse, het die lede die reg om 50% van die trustees aan te stel.
By aftrede, anders as met pensioenfondse, kan die lede kies om die hele voordeel in kontant te kry.
Soos met pensioenfondse, laat die reëls van die fonds toe vir die betaling van ’n kontantonttrekkingsvoordeel voor die aftree-ouderdom wat onderhewig is aan belasting.
Onlangs het ’n nuwe fondsinstrument, ’n sambreelfonds, te voorskyn gekom. Soos die naam aandui, maak die sambreelfonds dit moontlik vir ’n groep verskillende deelnemende werkgewers om saam in een pensioen- of voorsorgfonds te belê.
Daar is twee soorte sambreelfondse. Die kommersiële sambreelfonds bestaan uit fondse wat gewoonlik deur ’n versekeringsmaatskappy gestig is om klein ondernemings te help om ’n pensioenskema vir werknemers te bied. Dit is gewoonlik vir kostebesparingsdoeleindes en dus vir die kleiner onderneming voordelig.
Die sektor-sambreelfonds is bedoel vir verskeie werkgewers in dieselfde sektor, soos finansies, wat saam deel is van een fonds.
Uittree-annuïteitfondse en bewaringsfondse
Dié twee fondse maak dit vir die mense wat byvoorbeeld nie vir ’n werkgewer werk nie, moontlik om ook voorsiening te maak vir hul aftrede deur lid te word van ’n pensioenskema.
Uittree-annuïteitsfondse (“UA-fondse”) is beskikbaar vir diegene wat byvoorbeeld vir hulself werk, maar lid wil wees van ’n pensioenfonds.
Jy mag ook lid wees van ’n UA-fonds al is jy reeds ’n lid van ’n pensioen- of voorsorgfonds, as jy voorsiening wil maak vir bykomende voordele met jou aftrede.
Jy kan ook lid word van ’n bewaringsfonds wat toelaat dat die onttrekkingsvoordele wat jy ontvang van ’n pensioen- of voorsorgfonds bewaar word tot die dag van jou aftrede.
UA-fondse se eienskappe sluit in:
Daar is geen werkgewer betrokke nie en enige natuurlike persoon kan aansoek doen om lidmaatskap.
Die bydraes kan maandeliks of jaarliks geskied.
Bydraes is wel aftrekbaar van belasting tot sekere beperkings vasgestel deur die SAID.
By aftrede (gewoonlik tussen die ouderdom van 55 en 70) kan die lid ’n maksimum van een derde van sy voordeel in kontant neem. Die balans moet gebruik word om ’n annuïteit/pensioen te koop wat vir die res van jou lewe uitbetaal.
UA-fondse het geen kontantonttrekkingsvoordele voor die aftree-ouderdom nie.
Lede het ook nie die reg om trustees te kies nie. Die raad van trustees word deur die versekeraar of die batebestuurder aangewys. Daar is wel fondse wat toelaat dat onafhanklike trustees benoem word.
Die bewaringsfonds is op die been gebring as ’n alternatief vir huidige lede (voor hul aftrede) van werkgewerfondse en sy eienskappe sluit in:
Slegs lede van pensioen- of voorsorgfondse wat die diens van ’n werkgewer verlaat het voor die aftree-ouderdom (byvoorbeeld in die geval van ’n bedanking), het die reg op ’n kontantonttrekkingsvoordeel en mag lid word van ’n bewaringsfonds.
Daar is geen direkte of volgende bydraes ná die oordrag van die onttrekkingsvoordeel nie, wat die enigste bydrae is. Hierdie oordrag van die bydrae is belastingvry.
By aftrede, as die lid deel wil wees van ’n voorsorgbewaringsfonds, kan die hele voordeel in kontant geneem word. As jy egter ’n lid is van ’n pensioenbewaringsfonds, kan jy slegs een derde van die voordeel in kontant kry.
Anders as UA-fondse het die lid die reg op ’n enkele kontantonttrekking voor aftrede. Dit kan die hele voordeel wees. Daar is egter beperkings hierop, soos die fondsreëls van die bewaringsfonds sal aandui.
Wat UA-fondse betref, is daar twee soorte in Suid-Afrika.
Die algemeenste en tradisionele vorm is UA-fondse wat onderskryf is. Dit beteken as jy lid wil word, doen jy aansoek by die UA-fonds deur middel van jou makelaar of finansiële tussenganger.
Die UA-fonds doen weer aansoek by die versekeraar wat dit onderskryf en as dit suksesvol is, sal die versekeraar ’n polis aan jou uitreik.
Hierdie model behels dat die versekeraar ’n reeks voorafkoste bepaal, hoofsaaklik makelaarskommissie. Hierdie koste word oor die termyn van jou lidmaatskap van jou polis verhaal – met rente.
Die tweede vorm is die UA-fonds wat suiwer op ’n effektetrust gegrond is. Jy kan dus self by die UA-fonds om lidmaatskap aansoek doen. As jou aansoek suksesvol is, kan jy kies uit verskeie beleggingsportefeuljes.
Dié fonds het geen versekeringspolis wat uitgereik word deur ’n versekeraar aan die fonds namens jou nie.
Daar is ook geen voorafberekende koste nie, wat beteken as jy jou lidmaatskap beëindig of jou bydraes verminder voor jou aftrede, sal jy nie daarvoor betaal nie.